Het ’n rampartytjie bietjie handuit geruk?
Inwoners het omtrent kop gekrap oor die storie agter die saamry-kameelperd wat Saterdag hul dag interessant gemaak het.
Verskeie inwoners van Hopefield en Langebaan was Saterdag verbaas om ’n lewensgrootte kameelperd te sien wat in ’n kleinerige sportsnutsvoertuig ry.
Dit het kompleet gelyk of die kameelperd met sy lang nek agter in die bak van die voertuig sit en met sy hemelhoë nek die besienswaardighede rondom hom geniet.
Maar met die tweede oogopslag het inwoners egter agtergekom die kameelperd leef nie en is ’n opgestopte jagtrofee wat klaarblyklik iewers heen vervoer word.
Verskeie inwoners het foto’s van die koddigheid geneem, dit op sosiale media geplaas en tong-in-die-kies-opmerkings daaroor gemaak.
Een persoon het gesê die kameelperd laat hom aan ’n toneel uit een van die films van die Hangover-franchise dink waar rampartytjies altyd met skreeusnaakse gevolge handuit ruk en ’n kameelperd wat op ’n waentjie vervoer is, in ’n omstrede toneel ongelukkig sy kop op die snelweg verloor het.
Hano Trotzky, afslaer by HT Auctions in Langebaan, het aan Weslander gesê die groot jagtrofee is op veiling aan Bertie Rabie verkoop wat dit in sy boskroeg in die Tulbach-omgewing gaan gebruik.
Rabie het die kameelperd in Langebaan by HT Auctions kom afhaal en dit in sy sportsnutsvoertuig na Tulbach vervoer.
Die saamry-kameelperd het oral langs die pad, die koppe in verbasing laat draai.
Volgens Trotzky is die kameelperd maar net een van verskeie interessante, nie-alledaagse artikels wat hy deur sy werk al op veilings verkoop het.




