Kabeldiefstal in Darling daal sedert die ‘gemeenskap in blou’ polisie help

Sers. Johnatan Filander (links) was saam met Adam Niklaus, Magdalena Erasmus, Jeff Erasmus (voorsitter van die Community in Blue), Marlene Mentoor, Yolanda Mckay, Noel Matthyse en Marcelino Florence, die bestuurder van die vulstasie, by die oorhandiging van die gholfhemde. Agter is Christopher Loubser (adjunk-voorsitter).


Die bedrywighede van ’n groep gemeenskapslede van Darling, wat die polisie se “oë, ore en hande” is, het reeds ’n baie positiewe uitwerking op die dorp se misdaad.

Volgens sers. Johnatan Filander, Darling se gemeenskapspolisiëringsbeampte en woordvoerder vir die Darling-polisie, is die “Community in Blue”-groep op 2 Februarie met 15 ywerige gemeenskapslede in die lewe geroep.

“Ons ervaar reeds ’n groot afname in kabeldiefstal in die gebied danksy hierdie groep se hulp,” sê Filander.

Hy sê die Community in Blue se lede help met patrollies en deursoeking in die nag, werk op die polisie se patrollievoertuie en word doelbewus in die woonbuurte geaktiveer sodra beurtkrag inskop.

Dit is juis gedurende beurtkrag in die donker nag wat misdadigers hul onderduimse aktiwiteite beplan en kabeldiefstal plaasvind.

“Hierdie mense gee hul warm beddens naweke op om saam met die polisie in die koue te kom rondloop,” sê Filander.

Die bestuur van die plaaslike Engen-vulstasie het hierdie toegewyde groep se diens aan hul gemeenskap Donderdag 9 Maart erken en hulle vereer deur splinternuwe geborgde gholfhemde te skenk. Die hemde, wat die lede gaan dra wanneer hulle hul patrollies doen, het die polisie se wapen en die Community in Blue se logo daarop.

Volgens Filander het Adam Niklaus, wat die Engen-vulstasie onlangs by sy oorlede pa, Peter Niklaus, oorgeneem het, die gholfhemde vir die groep geborg. Die hemde is deur Adam en die vulstasiebestuurder, Marcelino Florence, aan die groep oorhandig.

“Peter het in die verlede ’n pad saam met die buurtwag gestap en altyd sy hand diep in die sak gesteek om glimbaadjies en klere te borg. Met hierdie oorhandiging neem Adam nou Peter se nalatenskap verder. Adam is ’n goeie en vrygewige man. Hy het die Community in Blue naby die vulstasie sien patrolleer en aangebied om die hemde te skenk,” het ’n diep geraakte Filander verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article