Dié gereedskap is by die plek gekry waar koperkabels uit die grond gegrawe is.


Kabeldiefstal is ’n reuseprobleem in die Saldanhabaai munisipale gebied.

Dit kos die belastingbetaler jaarliks derduisende rande en veroorsaak gereeld kragonderbrekings en internet-verskaffingsprobleme.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, wend die Vredenburg-polisiekluster ’n daadwerklike poging aan om kabeldiewe en vandale, wat noodsaaklike elektriese infrastruktuur beskadig, aan die pen te laat ry.

Heelwat kabeldiewe, waaroor Weslander berig het, is die afgelope drie maande in die gebied in hegtenis geneem.

Vrydag is nóg ’n vermeende kabeldief so te sê op heter daad met koperkabels in sy besit betrap – dit boonop net ’n paar treë van die plek waar die kabels uit die grond verwyder is.

Helfrich sê die man (38) is op 22 April deur die Weskus se landelike blitspatrollie op die suidelike verbypad in Vredenburg opgemerk waar hy met die opgerolde koperkabels in die hand gestap het.

Die kabeldief is in hegtenis geneem en by verdere ondersoek het die polisiebeamptes net ’n paar meter van waar die man betrap is, die oopgegrawe slote in die grond ontdek waar die koperkabels afgesny en daarna gesteel is.

Die polisie het ook beslag gelê op gereedskap waarmee die slote gegrawe en die kabels afgesny is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article