Belanghebbendes in die tabak-bedryf het nou kans tot 4 September om kommentaar te lewer oor die nuwe wetsontwerp op die beheer van tabakprodukte en elektroniese afleweringstelsels.
Ná vele klagtes van handelaars in die sektor is die datum om terugvoer te lewer, uitgestel.
Die nuwe wetgewing bepaal dat die vervaardiging en verkoop van tabakprodukte en e-sigarette strenger gereguleer word. Onder meer sal sigarette nie los verkoop mag word nie. Die verpakking van sigarette, tabak en die elektroniese weergawes, moet eenvoudig wees en handelaars sal nie sigarette mag uitstal nie terwyl produkte slegs aan mense ouer as 18 jaar op aanvraag verkoop mag word.
Die Saldanha-handelsvereniging, wat meer as 100 plaaslike informele handelaars verteenwoordig, meen die nuwe wetsontwerp sal beslis ’n impak op die handelaars se bedrywighede hê.
Volgens die vereniging is meeste van hul lede enkelma’s. Wiedaad Davids, president van die vereniging, verduidelik dit is veral die verbod op los sigarette en die uitstalling van produkte wat klein handelaars negatief sal affekteer. “Ons handelaars verkoop verskillende goedere, sommige verkoop vrugte en groente, sommige klere, sommige verkoop eiers, of lekkers en skyfies, maar byna almal verkoop sigarette, dit is wat die klant wil hê. Sommige van ons handelaars verkoop ’n 20-pakkie-sigarette, maar nie baie nie,” verduidelik Davids.
Sy verduidelik informele handelaars is ’n uiters belangrike deel van die plaaslike ekonomie. Volgens Statistiek SA (2021) is ’n derde van Suid-Afrika se werksmag in die informele sektor.
Davids stem saam met die Suid-Afrikaanse Alliansie vir Informele Handelaars (Saita) dat baie klein handelaars sigarette los verkoop, omdat hul klante eenvoudig nie ’n pakkie kan bekostig nie.
Intussen meen gebruikers en vervaardigers van e-sigarette die nuwe wetsontwerp moenie gebruik word om beide e-sigarette en gewone tabakprodukte te reguleer nie. Volgens Kurt Yeo, stigter van Vaping Saved My Life (VSML), gebruik baie rokers e-sigarette om “gesonder” rookgewoontes aan te kweek en help glo baie mense om uiteindelik op te hou rook. Hy meen die regulasies vir die twee produkte moet geskei word.
Davids sê die vereniging het reeds kommentaar op die wetsontwerp gelewer en moedig ander in die sektor aan om dieselfde te doen.
Die volle wetsontwerp kan by www.parliament.gov.za/bill/2307574 verkry word.


