Inwoners het nog kans om kommentaar te lewer oor een van die kuswater-afvoerpermitte van St. Helenabaai se visfabrieke.Foto: Yaël Malgas


Inwoners en belangstellendes het tot die einde van vandeesmaand om kommentaar te lewer oor een van die kuswater-afvoerpermitte van St. Helenabaai se visfabrieke.

Die departement van bosbou, visserye en die omgewing het die geleentheid vir openbare kommentaar oor die permitte verleng. Die kuswater-afvoerpermitte van Lucky Star in St. Helenabaai word nou deur die departement hersien.

Die vier visverwerkingsaanlegte – Lucky Star, West Point Processor, Pioneer Fishing en Amawandle – het histories afvalwater in kuswaters gestort deur gebruik te maak van kuswater-afvoerpermitte wat van die departement verkry is voor die toepassing van Artikel 69 van die nasionale wet op omgewingsbestuur, die Wet op Geïntegreerde Kusbestuur, 2008 (Wet 24 van 2008), oftewel die ICM-wet.

Die hersieningsproses was een van die hooffokusse van die St. Helenabaai-watergehalteforum, wat onlangs gesluit is. Dié organisasie het onder meer gekyk na die watergehalte in en om St. Helenabaai, maar moes weens ’n gebrek aan finansiering sluit.

In hul laaste verslag wat verlede jaar uitgereik is, het die trust genoem die afvoer van die vier plaaslike visfabrieke in die dorp is kommerwekkend, omdat die uitlaatwater ryk aan nutriënte is, wat op sy beurt ’n invloed op die waterkolom en sediment het.

In die organisasie se navorsing is bevind om die afvoer van fabrieke dieper in die see te hê, kan beter wees vir die verdunning van die afvoerwater.

“Die vlak water van die Baai, sowel as die stadige stroomspoed, beperk die doeltreffende verdunning en verspreiding van uitvloeisel. ’n Afvoer in dieper water en verspreiding deur sterker strome sou waarskynlik aansienlike voordele in die verdunning van afvalwater voor uitvoer sien, maar hierdie voordele is nie teenwoordig vir die St. Helenabaaise visfabrieke se afvoer nie as gevolg van die vlak batimetrie (diepte van die seevloer) en retensievolle aard van die Baai,” lui die dokument.

Die voorstel van die navorsers was dat die uitlaatwater eers goed behandel word voordat dit in die see uitgelaat word.

Belangstellendes kan nou kommentaar en voorstelle oor Lucky Star se permit lewer. Dié permit sal vir die volgende vyf jaar geldig wees.

Volgens die departement is die doel van die proses om voorwaardes en riglyne vir die afvoer van uitlaat te reguleer.

“Lede van die publiek, insluitend belanghebbende en geaffekteerde belanghebbendes, word aangemoedig om voordeel te trek uit hierdie uitbreiding om waardevolle bydraes en voorleggings te maak,” het die departement luidens ’n verklaring gesê.. Kommentaar kan per e-pos na fpp@dffe.gov.za gestuur word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article