Dit is vir my baie belangrik om van tyd tot tyd te reflekteer en ’n behoorlike voorraadopname te doen van waar presies ek myself bevind ten opsigte van my “hier wees” en die uitleef van my lewensroeping op aarde. Vir hierdie uitsluitlike doel is ek dankbaar dat ek iewers langs die pad die voorreg gehad het om ’n baie insiggewende werksessie by te woon, wat my gehelp het om veral die deel oor my lewensroeping te verstaan.
Dit is dié deel van my lewe wat verstaan dat ek ’n brugbouer is tussen mense van verskillende kulture, geloofsoortuigings, sosiale stand en agtergronde, wat ’n groot stuk bevryding in myself teweeg gebring het en my voorsien van ’n lewenskompas wat my telkens in hierdie rigting stuur. Die onderbou van my lewensuitkyk en filosofie word gekenmerk deur ’n diepe respek vir self en ander. Die lekker deel hiervan is dat dit my telkens by ander mense uitbring, want wat sal die doel van sodanige lewensuitkyk en filosofie wees as dit nie jou medemens in die sentrum stel nie?
Die afgelope twee jaar plus het ’n nuwe dimensie bygebring wat my lewensuitkyk tot ’n groot mate beïnvloed het. Dit het die vraagstuk oor die gehalte van menseverhoudings skerp na die voorgrond laat kom. Hiermee saam het dit die kwantitatiewe aspek van persoonlike menslike interaksie duidelik kom belig. Ewe skielik het die behoefte aan verpligte interaksie met die massas plek begin maak vir slegs die konneksies wat werklik saak maak. Die kontak met die massas het wel in ’n tegnologies gedrewe era sy plek behou. Ek kan my verkyk aan al die wonderlike moontlikhede wat dit vir die individu, sakeondernemings en organisasies inhou. Die massas word bereik, maar die individu het ’n meer gebalanseerde uitkyk op die regstreekse interaksie met ander mense. Wel, ten minste is dit waarvan ek myself oortuig, aangesien ’n groot stuk wysheid daarin opgesluit lê.
Op ’n kollektiewe samelewingsvlak wil ek my verstout om te sê dat daar soveel te leer is by die politieke spel en magsveld van die dag. Dis vir my die een gebied waar ’n mens baie selektief die toets kan doen oor die soort mens wat jy nie wil wees nie. En tog is dit op ’n mikrovlak ook waar van die mense met wie jy op ’n daaglikse basis te doen het – daardie mense wat jy sonder om te skroom kan sê jy sal graag ’n pad saam met so iemand wil stap. Nie ’n naïewe, ondeurdagte keuse vir so ’n pad nie, maar wel een waar jy doelbewustelik die keuse maak om jou assosiasie openbaar te maak en dit tot voordeel van ander doen.
My refleksie oor waar ek myself binne groepsverband bevind, laat my telkens die vraag vra of my assosiasie met die ander my mate van kerngesondheid versteur. Indien nie, reis ek graag voort. Indien wel, maak ek my met graagte los van daardie spesifieke verbintenis. Daar was al tye in my lewe waar ek voor die keuse gestaan het of ek bereid sal wees om my siel te verkoop vir mag, aansien, geld en noem maar op. My antwoord was en is eenvoudig – nee. Dis om hierdie einste rede dat my sirkel van konneksies die afgelope tyd heelwat kleiner geword het. Ek is baie meer daarop ingestel om my reisgenote met ekstra wysheid en onderskeidingsvermoë te kies. Natuurlik is ek pynlik bewus van my eie tekortkominge en behoefte aan volhoubare konneksies met ander, maar nie ten koste van die self en ander nie.
Dis vir my die wonderlikste en bevrydendste ervaring om deesdae saam met ander te reis wat, soos ek, op ons eie unieke wyse daartoe wil bydra dat ons land en wêreld ’n beter plek vir die volgende geslag sal wees. Hoe doen ’n mens dit? Wel, hopelik lig en lewendig, minus die onnodige bagasie, drama, pretensie, onrealistiese verwagtinge en selfsugtigheid. Ek wil glo sodra die self meer gestroop word van hierdie selfgelaaide bagasie, sal die outentieke self na vore kan kom. My persoonlike refleksie gekoppel aan my persoonlike lewensroeping het my, post-covid, meer as ooit tevore laat ontdek dat die lewe kort is; dat daar nie tyd of plek is om in onnodige kompetisie met ander te leef nie. Hardloop in jou baan, het ’n goeie vriend altyd te sê. En as jy daardie baan ontdek het en daarin begin hardloop, doen jy dit met absolute toewyding.
En dis in hierdie baan dat jy jou eie menswees ten volle ontdek en nog ’n groter respek en waardering ontwikkel vir dié wat die waardes en beginsels van jou eie lewensreis deel. En of ek deesdae met die individu of die massas te doen het, is dit ewe bevrydend om te weet ek bly in my interaksie met ander getrou aan my beskeie lewensroeping.
En as jy nog twyfel of dit wat jy na die tafel bring van genoeg waarde is? Wel, jy sal nooit uitvind of dit wel waarde het as jy nie waag om dit met ander te deel nie. Jy kan dalk net aangenaam verras word.





