As die lewe jou ’n tweede kans bied, gryp jy dit met albei hande aan, want jou tweede kans is dalk die laaste kans vir die res van jou lewe.

Ons almal kan seker onthou van ’n keer of kere uit ons verlede toe ons dit sommer goed opgeneuk het.

Die graad van erns oor die oortreding kan dalk van mens tot mens verskil, maar niks kan weggeneem word van die feit dat jy ’n oortreding begaan het nie.

Ek onthou een van my eie oortredings toe ek nog op kosskool was (donkiejare gelede . . .) – my einde-van-die-jaar- skelm partytjie saam met maters het in ’n fiasko ontaard.

Ek het in die skoolhoof se kantoor geëindig. My ma was by en moes die pleitwerk doen nadat ek uit die koshuis geskors is.

“Asseblief, Meneer, gee hom net nog een kans,” het sy gesmeek. Ek is daardie kans gegun en het van toe af fyn in my spoor getrap. My pa weet tot vandag nog nie van hierdie voorval nie.

Nog ’n paar voorvalle het oor my pad gekom. Ek kan met groot dankbaarheid terugkyk en die lesse daaruit geleer saamneem op my reis die toekoms in.

Helaas – niemand van ons is perfek nie. Ons maak almal foute; elke dag. Vir party van ons is die oortreding of fout “fataal” van aard, en die gevolge daarvan kan jou vir ’n leeftyd agtervolg.

Ek het onlangs so iemand ontmoet. Die vier hoeke van die gevangenis was die uiteinde van sy oortreding – vyf jaar tronkstraf en nog vyf jaar op parool.

Dit was in sy tydperk aan die binnekant dat hy die werklike impak van sy oortredings besef het, en daarmee saam die keuse gemaak het om as ’n beter mens daaruit te stap. Hy het sy eerste tree na ’n tweede kans in die lewe gegee.

Die integrasie­proses terug na die samelewing was nie maklik nie, maar uiteindelik is ’n lewenslyn in die vorm van ’n voltydse werk na hom uitgereik.

In sy tyd in die gevangenis het hy sy foute uit die verlede, maar ook sy hoop vir die toekoms, in digvorm begin neerpen.

Dit sou sy boodskap van vergifnis wees aan dié wat hy skade aangedoen het. Dit sou sy kaartjie na ware vryheid en ’n verdiende tweede kans in die lewe word. Daardie droom van hom is byna verpletter toe ’n verwoestende brand alles in en rondom sy informele huisie vernietig het.

Net die manuskrip met sy gedigte het die verswelgende vlamme oorleef. Dit was nog ’n teken. Sy storie van ’n tweede kans in die lewe moes ander se oë en ore bereik. Dit het.

Sy boodskap van hoop het sedertdien in boekvorm verskyn. Die reis na vergifnis en heling kon begin.

Ons moet erken dat nie elke oortreder daardie tweede kans in die lewe gegun word nie – veral nie diegene wie se paaie met die gereg gebots het nie.

Herintegrasie in die samelewing word hier ’n groot uitdaging, want watter werkgewer sal kans sien om iemand met ’n misdaadrekord nog ’n kans te gee om oor te begin?

’n Mens kan dit verstaan, maar tog laat dit die vraag ontstaan of ons nie juis daardie mense faal en hulle uiteindelik terugdryf na ’n bestaan wat bekend is en sodoende ’n verdoemende siklus in stand hou nie.

Vir dié wat daardie tweede kans in die lewe op meriete verdien, is dit van noodsaaklike belang dat ons daardie kanse skep, want hoe dan anders?

Soveel stigmas kleef aan iemand wat ’n fout begaan het. Al het hy of sy ten volle geboet vir sy of haar dade, is ons tog so geneig om steeds die aard en pynlike detail van die oortreding “aan die groot klok” te hang.

Ja, party mense volhard in hul misdadige gedrag en verdien dus daarmee saam die gevolge van sodanige gedrag.

In party gevalle verdien so iemand werklikwaar ’n tweede kans om oor te begin. Diesulkes, glo ek, het ’n enorme bydrae om te lewer en kan bewys lewer dat die mooi en goed in elke mens opgesluit lê wat tot voordeel van ons samelewing ingespan kan word.

Dalk is jou oortreding nie so opsigtelik van aard nie en kan jy vir jare daarmee wegkom.

Ek hoop vir jou onthalwe dit gaan jou nie uiteindelik ook deel maak van die statistieke in ons land nie en dat jy gou genoeg sal besef niemand van ons word gevrywaar van die einas in die lewe nie.

Dit laat my dink aan dié woorde wat iemand eenmaal kwytgeraak het: Jy is nooit te sleg om goed te word nie, en nooit te goed om sleg te word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article