My bord van aktiwiteite en ander doengoed was nogal vol hierdie jaar.
Ek kan sonder enige twyfel sê al hierdie doengoed was egter baie lekker om te doen. Een hiervan was om ’n vrou in haar gryse jare se droom om haar eie boek die lig te laat sien, te help bewaarheid. Sy is ’n rype 82 jaar oud en haar droom is ’n paar dae ná haar verjaarsdag en ’n paar dae voor Kersdag bewaarheid.
Ek was bevoorreg genoeg om die storie en proses van begin tot einde waar te neem en eerstehands te ervaar. Ek het egter nog nooit iemand so vasberade gesien om hierdie droom van haar te bewaarheid nie. Ek moes net ja sê toe sy my twee jaar gelede gevra het of ek haar sal kan help, want hier is iemand wat wil. Soveel ander is nie eens bereid om te waag en te droom nie, en is maar tevrede met ’n sub-standaard-bestaan. Niks verkeerd daarmee nie, want op die ou einde het elkeen van ons ’n keuse wat ons met ons lewe wil uitrig.
Hierdie vrou in haar skemerjare het my opnuut herinner aan ’n ou gesegde wat lui: as jy op soek is na die meeste onvervulde drome, dan kan jy maar net na die begraafplaas gaan om dit te vind.
Skokkend, maar waar.
Sy het my opnuut laat besef dit is nooit te laat om daardie droom of drome van jou waar te maak nie – al is dit op die rype ouderdom van 82 jaar! Dat jy inderdaad jou kon, wou, sou en miskien kan omswaai – ek het.
Die proses om die droom saam met die tannie waar te maak, is natuurlik ’n perd van ’n ander kleur. Het jy al saam met ’n senior burger ’n projek aangepak wat vir hom of haar na aan die hart lê?
Sjoe, dit was nou vir jou ’n storie. Iewers onthou sy dat nog ’n storie of gedig wat bygevoeg of weggelaat moet word. Met die gesondheid wat ook nie meer van die beste is nie, moes ons te alle tye waak dat haar bloeddruk of suiker nie te kwaai klim of val nie – nie te veel opgewondenheid en ook nie te veel bekommernis nie. Dit was maar naelbyt- oomblikke as ek klokslag elke week ’n “missed call” van my kliënt ontvang. Dan weet ek sy wil weet hoe ver die projek is.
Toe die druk van haar boek uiteindelik agter die rug is, was die volgende sarsie doengoed op die lys alweer gereed.
Op 82-jarige ouderdom is niks met haar brein verkeerd nie. Haar voorvat sal jou gou laat besef jy sal maar moet voldoen aan die eise en vereistes wat gestel word.
Die gastelys vir almal wat na haar boekbekendstelling uitgenooi moet word, moes noukeurig opgestel word; die plek en datum moet vasgemaak word en die media moet genooi word.
Telkens as my selfoon nog ’n keer lui, weet ek sy het nog iets onthou!
Groot was die vreugde toe die dag aanbreek dat ons haar boek aan almal kon bekendstel. Dit was eers op hierdie dag dat ek die impak van haar droom op ander se lewe kon sien. Vir soveel mense uit haar gemeenskap is sy ’n lewende legende wat die voetspore vir die jonger generasie stewig uitgetrap het.
En daar waar sy in haar rolstoel sit en tevrede alles om haar gadeslaan, is dit asof daardie bekende lied, “Genade onbeskryflik groot”, vir my nuwe betekenis kry.
Hier skuins voor Kersfees word iemand se droom op 82 waar. Hier skuins ná haar verjaarsdag vroeg in Desember ontvang sy haar mooiste en beste geskenk nog – die geskenk en gawe van lewe om haar droom te sien waar word; die genade en voorreg om dit te kan vier saam met hulle wat vir haar in haar lewe spesiaal is, en die rede om hierdie Kersfees met ’n dankbare hart tegemoet te gaan, want die Kindjie in die krip het haar gebed verhoor en Sy seën daaroor gebied.
Dalk is jou wenslysie vir hierdie Kerstyd iets heeltemal anders. Ek kyk hierdie jaar anders na die dieper betekenis van hierdie tydperk. Lank ná die bekendstelling van die tannie se boek sal kinders, jongmense, volwassenes en selfs ander senior burgers uit die storie van Die kind van Oukloof (titel van boek) inspirasie tap.
Sy sal ons deur haar nalatenskap daaraan herinner ons moet nooit ophou droom nie; ons lewe sal ware betekenis kry as ons die gawes en talente wat ons het, tot voordeel van ander inspan.
En dat die Kindjie in die krip hemel en aarde sal beweeg om daardie droom van jou te beskerm en jou te help om dit waar te maak; dat Hy die mense en hulpbronne sal voorsien om die droom te laat realiseer, en dat ons deur en met die waar word van die droom nederige dank en eer sal bring aan Hom wat die gewer is van ons drome. Geseënde Kersfees.





