Aneën Maree, ’n onderwyseres by die Hoërskool Vredenburg.


As klein dogtertjie het Aneën Maree geweet sy wil ’n onderwyseres word.

“Dit is versterk toe ek ouer geword en gesien het hoe beide my broer en suster wat albei leerprobleme het, op skool sukkel. Ek het ’n hele paar ander beroepe ook oorweeg, maar het altyd teruggekom na die onderwys,” vertel Maree.

Haar droom het waar geword en sy is nou al die afgelope 12 jaar in die onderwys.

Dié Hoërskool Vredenburg se onderwyseres bied tans Engels Eerste Addisionele Taal, Engels Huistaal en geskiedenis aan.

Maree verduidelik hoërskoolonderwys behels verantwoordelikheid vir die skep van lesse vir die vakke wat jy aanbied asook om ’n klaskamer te bestuur.

“Dit behels die uitoefen van dissipline, kontroleer van huiswerk en uitdeel van notas. Ook die organisering van die leerders binne jou klas om leer te bevorder en ook om jou klas te versier tot so ’n mate dat dit ’n atmosfeer skep wat leer bevorder.”

Sy voeg by dat dit soms ook buitemuurse aktiwiteite insluit. “Vir my sluit dit in die afrigting van die skool se tamboermeisies, ekstra klasse ná skool, administrasie van die skool se Facebook-blad, lidmaatskap aan die Ouer-en-Onderwysersvereniging en meer. Dit kan egter verskil van onderwyser tot onderwyser.”

Maree het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer waar sy haar BA-graad in taal en kultuur verwerf het.

Sy het ook ’n Nagraadse Onderwys-sertifikaat verwerf, waarna sy haar eerste pos by die Hoërskool Vredenburg in 2009 aanvaar het.

Covid-19 het sy eie uitdagings vir die onderwys gebring. Maree kan daarvan getuig.

“Die onsekerheid is die een ding wat my persoonlik die meeste gevang het. Ek hou daarvan om ’n plan van aksie te hê en Covid-19 veroorsaak dat jou planne ’n bietjie deurmekaar gekrap word. Daar was natuurlik ook die kopkrapsaak van hoe om te sorg dat al my leerders die nodige leermateriaal kry en om dan op digitale platvorms soos Google Classroom of WhatsApp te probeer klasgee.”

Vir die wat die onderwys wil betree, vertel Maree dat dit nie vir swakkelinge is nie. “Dit is ’n veeleisende en bitter belangrike beroep, maar dit is ook ’n beroep waarin jy eintlik meer kry as wat jy gee.” Maree voeg by dat dit vir haar lekker is om te sien wanneer ’n leerder iets verstaan nadat hy of sy lank met ’n probleem of konsep gesukkel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article