Juffrou Queenie Louw Adams het pas – ná 47 jaar in die onderwys – afgetree.
“Juffrou Queenie” soos sy beter bekend gestaan het, het haar laaste skooldag as onderwyser by Eden Primêr gister (Woensdag 31 Januarie) meegemaak.
Volgens Adams het sy nog altyd ’n liefde vir die onderwys gehad en dit het al op ’n jong ouderdom gewys. Adams het dikwels skool-skool saam met vriende gespeel en wou altyd die onderwyseres wees.
Sy het die skool destyds in std. 8 (gr. 10) verlaat en by Zonnebloem Opleidingskool aangesluit waar sy haarself as ’n onderwyser gekwalifiseer het. “Ná twee jaar het ek as 17-jarige juffroutjie begin werk, maar ek het later oor ’n aantal jare my matriek deur aandklasse by Weston Senior Sekondêre Skool voltooi. Daarna het ek ook deeltydse graadkursusse in die onderwys deur die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie in Wellington asook Unisa voltooi.”
Adams was ’n onderwyseres by verskeie skole in die Weskus onder die leiding van goeie skoolhoofde. “Al hierdie hoofde het ’n fenomenale invloed op my gehad en my bemagtig met lewenslesse wat ek op my lewensreis verder kan neem.”
Om kinders te sien ontwikkel en groei en om deel te wees van hul reis is wat onderwys vir haar so spesiaal maak.
“Onderwys is een van die vele gawes van ons Vader – om met die verstand van ’n kind te werk,” sê sy.
Sy kan ná al die jare oor talle prestasies en hoogtepunte praat en was betrokke by die skool se koor, drama, om die kinders voor te stel aan die ATKV-tienertoneel, koorfeeste, Wes-Boland Eisteddfod en soveel meer, en sy het seker gemaak die leerders word blootgestel aan verskeie platforms – iets wat vir haar altyd vreugdevol was om te sien hoe die kinders dit geniet.
Wat gaan sy die meeste mis? “Die kinders natuurlik!” Maar nou is dit tyd om op haarself te fokus en vir eers die rus te geniet. En moontlik sal sy weer op kulturele vlak uithelp.





