’n Gebrek aan ’n gesonde leefstyl lei dikwels tot voorkombare leefstylsiektes. Wat is volgens jou die gevaarlikste simptome wat pasiënte dikwels ignoreer of mis? Dit is juis daai simptome wat jou bekruip wat gevaarlik is. As ’n mens ’n verkoue kry, ontwikkel simptome binne ’n paar uur en kan jy daarop reageer. Leefstylsiektes ontwikkel egter stelselmatig en dus kan die verandering in gesondheid nie geredelik deur die pasiënt ervaar word nie, en gevolglik kan daar nie vroegtydig ingegryp word nie. Een van die mees uitgesproke, onder-gediagnoseerde en gevaarlike lewenstylsiektes is die Metaboliese Sindroom. Die sindroom het verskeie name, maar ek verduidelik aan my pasiënte dat dit die super-sluiper-sindroom is, spesifiek omrede dit min tot geen simptome wys. Die sindroom in kort sluit in: obesiteit (met insulien-weerstandigheid), hipertensie en verhoogde cholesterolvlakke.
Is leefstylsiektes besig om toe te neem en wat is die grootste redes hiervoor? Gegewe die milieu waarin die mens homself bevind met ’n gejaagde lewenstyl, kitskos, gebrek aan oefening en ook verminderde ontspanningsgeleenthede, neem leefstylsiektes toe. Die voorkoms van metaboliese sindroom is aansienlik hoër in ontwikkelde lande en minder in ontwikkelende lande – waaronder die vinnige leefstyl die groot sondaar is. Verskeie studies toon dat die rede hiervoor werksmikrokulture is. Kantoorwerkers is meer geneig tot vetsug, meer hartsiektes en ander komplikasies. Dis kommerwekkend dat die super-sluiper-sindroom al hoe meer onder jonger mense – selfs kinders – toeneem, en die toename in die jong bevolkingsgroep aansienlik groter is as die toename in die volwasse groepe.
Gemeet aan die pasiënte wat jou praktyk besoek, watter leefstylsiekte is die grootste
bedreiging aan die Weskus? Ongetwyfeld insulienweerstandigheid.
Hoe belangrik is algemene doktersbesoeke en hoe gereeld moet hierdie besoeke plaasvind? Voorkombare siektes soos tipe 2-diabetes, hartaanvalle en beroertes kan aansienlik verminder word deur ’n onderhoud met die pasiënt, fisieke ondersoek, bloedtoetse en spesiale ondersoeke soos ’n EKG (elektrokardiogram). Meer gereelde ondersoeke soos elke ses maande is van toepassing vir ouer mense en is juis die rede waarom voorskrifte nie langer as ses maande gegee kan word nie. Indien ’n pasiënt byvoorbeeld suikersiekte het, kan ’n afspraak elke drie maande van toepassing wees. Om te help in die besluit hoe gereeld ’n pasiënt ’n dokter moet besoek, is sekere riglyne vir elke siektetoestand beskikbaar.
Watter rol vervul bloedtoetse in die voorkoming van
of vroeë intervensie? Die diagnose van die meeste leefstylsiektes is op bloedtoetse gegrond. Cholesterol het byvoorbeeld geen sigbare simptome totdat groot skade aangerig is nie, soos ’n hartaanval. Dan het die geneesheer sy doel gemis. Gegewe die groot voorkoms van insulienweerstandigheid en verhoogde cholesterol in ons gebied is roetine-bloedtoetse uiters noodsaaklik. Insulienweerstandigheid is ook ’n behandelbare leefstylsiekte wat ’n mens bekruip, en kan maklik met ’n vastende bloedtoets gediagnoseer word. Indien insulienweerstandigheid nie behandel word nie, kan dit tot suikersiekte lei – hetsy oor ’n maand, ’n jaar of langer.
Watter inligting kan ’n bloedmonster van die individu waaraan dit behoort, se leefstyl verklap? Jou bloed kan verklap hoe lief jy vir die vet aan jou tjoppie is wanneer jou bloed vir cholesterol getoets word. ’n Lewertoets sal heel waarskynlik jou dokter laat weet of jy wel net Coke in daai glas langs die braaivleisvuurtjie gebruik, en ’n nierfunksietoets verklap hoeveel water jy drink. ’n Bloedmonster spreek ook boekdele van jou snorkery in die aande (ystertoets), hoeveel ysters jy in die gimnasium buig (hormoontoets) en of jy ’n bikini in jou kas het (vitamine D-toets).
Wat is volgens jou ’n paar slim haalbare (dus werklik realistiese) wenke om steeds goeie gesondheid ten spyte van ’n besige skedule te geniet en om te verhoed dat jy in die toekoms slegte nuus van jou dokter ontvang? ’n Gesonde leefstyl is binne bereik van enige mens. Drastiese en vinnige leefstylveranderinge is nie net ’n groot aanpassing nie, maar ook nie volhoubaar nie. Balans is die oplossing. Gebruik die trappe in plaas van die hyser. Gebruik eerder die verste parkeerplek by die winkelsentrum. Maak gebruik van ’n slim horlosie wat jou aantal treë tel. Volg ’n gebalanseerde dieet (en nee, ’n gebalanseerde dieet is nie ’n koekie in elke hand nie!) Eet organies! Om tuis groente te kweek en dan te gebruik, is nie net baie gesonder en sonder kunsmatige groeihormone asook gevaarlike gifstowwe nie, maar dis ook rus vir die hardwerkende siel – en gee oefening ook! Minimale aanpassings in kookmetodes sal ook ’n ver ent gaan om jou gesondheid te verbeter. Sny maar daai vetjie van jou gebraaide tjoppie af. Voorkoming van siektes is beter as die behandeling daarvan.



