Nelandi Bosshof van Langebaan is een van vyf belowende dramaturge wat vir die NATi Jong Sterre-projek gekeur is.


Vyf belowende jong dramaturge is gekeur vir deelname aan die nuwe seisoen van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) se Jong Sterre-projek, een van die land se voorste ontwikkelingsinisiatiewe om jong teatermakers op te lei en hul loopbane ’n hupstoot te gee.

Nelandi Boshoff van Langebaan is gekies om deel te neem. Die vyf het konsepte vir dramatekste voorgelê, en dié tekste sal onder leiding van Lee-Ann van Rooi en Rafiek Mammon oor die volgende klompie maande ontwikkel word om as professionele teaterproduksies in 2025 by die Suidoosterfees te debuteer.

Boshoff sien uit na die insette van die mentors om die kabaret waaraan sy werk, sterker koers te gee. “Ek kan skaars wag om myself te verdiep in ’n omgewing waar skrywers hul eie unieke benaderings volg. Die waardevolste lesse kom uiteindelik uit gesprekke met ander,” vertel sy.

Die mentorskapprogram sluit ’n skrywersverblyf van drie weke in, waartydens die mentors intensief met die skrywers saamwerk om afgeronde tekste tot stand te bring. Die Jakes Gerwel-stigting se Paulet-huis in KwaNojoli in die Oos-Kaap dien as tuiste vir die groep skrywendes.

Die Jong Sterre-kandidate kom van die verste uithoeke van die land en het reeds hul eerste treë in die teaterbedryf gegee. Die geleentheid om dramatekste vir die verhoog te skep, plaas hul loopbane in die kunstebedryf op ’n nuwe trajek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article