Die jaarlikse departement van sport, kuns en kultuur se o.15-sewestoernooi is Saterdag 16 Oktober by City Park, Athlone, gespeel.
Die toernooi was tussen Boland, Suidwestelike Distrikte (SWD) en Westelike Provinsie (WP).
Die Boland- o.15-span het talle Weskusspelers asook afrigters ingesluit naamlik JC van Rhyn (Diazville Primêr), Clementino Bouwers, Jayden Jacobs (Hoërskool Weston), Lucian Botha (Hoërskool Diazville) en Cheswill Jooste (Panorama Primêr) wat ook die Boland-span aangevoer het.
Die Boland-span is deur die jong, dinamiese Alfredo Barends van Hoërskool Louwville afgerig, met onderskraging van Ivan Dwashu van Hoërskool Diazville, wat alombekend is as ’n spanbestuurder met hoë standaarde.
Boland het die toernooi op ’n galop begin en SWD met 34-0 afgeransel.
Daarna het hy sy veldtog verder geneem en die magtige WP met 27-5 in die eindstryd geklop.
Boland het sy toernooiwedstryde onoorwonne afgesluit en is as die Wes-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur se o.15-seweskampioene gekroon.
Nie minder nie as ses Boland-spelers is in die Wes-Kaapse o.15-sewesspan opgeneem, wat van Woensdag 15 Desember tot Maandag 17 Desember aan die “Summer Games” in Johannesburg gaan deelneem.
Drie spelers van die Boland-span kom uit die Weskus, naamlik JC van Rhyn, Clementino Bouwers en Cheswill Jooste.
Barends, met sy indrukwekkende oorwinningsrekord wat provinsiale en internasionale toernooie betref, sal die hoofafrigter van die Wes-Kaap -o.15-sewesspan wees.





