Om op die groot verhoog te wees, was nog altyd ’n droom van die jong René Cloete.

Dié 24-jarige is oorspronklik van Vredenburg, maar woon tans in die Kaap. As sy verwys na huis, is Vredenburg egter wat sy haar tuiste noem. Cloete is binnekort op die Suidoosterfees-verhoog in drie produksies te sien genaamd, Suurdeeg, Monsters en Kipper and the Underground Adventure. Die Suidoosterfees word van 26 April tot 1 Mei in die Kunstekaapteater in Kaapstad aangebied.

Cloete het drama op skool geneem en ook besluit om ná skool verder daarin te gaan studeer. “Dit was altyd lekker en het my ’n plek gegee om myself te wees en myself te leer ken. Dit het ’n genesings- en groeiruimte geword. Ek het altyd geweet dis wat ek wou doen,” vertel Cloete.

Twee van die drie produksies het Cloete reeds verlede jaar die geleentheid gebied om voor ’n gehoor op te tree. Kipper and the Underground Adventure, of Vlooi en die Ondergrondse Avontuur, soos baie dit in Afrikaans ken, is een van die heel eerste produksies wat Cloete as leerder by die Laerskool Vredenburg op die verhoog gesien het. “Ek onthou die gevoel – dit was hierdie groot gebou in die Kaap; die mense het op die verhoog gekom en gesing en gedans, en ek dink van daai tyd af het ek geweet ek wil deel wees van wat hier aangaan.” Dit was ’n groot eer vir Cloete om deel te wees van hierdie produksie in 2023 om die rol van Vlooi se ouma te vertolk. Om die kinders se opgewonde gesigte te sien, laat haar terugdink aan toe sy self ’n kind was en die produksie gesien het.

Die produksie Monsters gaan oor twee tienjarige seuns wat ondervra word ná die verdwyning van die tweejarige James Bulger. Die Sweedse dramaturg Niklas Rådström laat die ware gebeure van 12 Februarie 1993 op ongenaakbare wyse ontvou en stel moeilike vrae oor moraliteit, aanspreeklikheid en verantwoordelikheid. Dis ’n interessante produksie met ’n teks wat baie relevant is in die samelewing soos Cloete dit verduidelik.

In die produksie Suurdeeg speel Cloete die rol van Anna Cloete. Die produksie is ’n romantiese drama waarin die karakters voor eensaamheid, ’n begeerte na liefde en betekenisvolle verhoudings te staan kom.

Volgens Cloete sou sy nie hierdie dramareis kon onderneem sonder die ondersteuning van haar familie en vriende nie. “Hulle het van die begin af hierdie gees in my gesien en my nooit laat voel asof dit nie is wie ek kan wees nie. Die drukkies en die kyk in hul oë ná ’n vertoning is ook die ding wat my die heeltyd aan die gang hou. Dit is vir my baie spesiaal.”

Cloete moedig dié aan wat graag die dramawêreld wil betree om elke geleentheid te neem en hulself uit te druk. “As jy dit wil doen, waag die kans en sien die geleenthede. Omring jouself met mense wat jou ondersteun. Dis ’n proses wat uitmergelend kan word, maar jy kan dit doen!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article