John Mitchell het jare se ervaring van klubrugby en deesdae, as voorsitter van die Vredenburg-rugbyklub, kyk hy terug op sy loopbaan.

Mitchell het as rugbyadministrateur in 1988 begin en was die sekretaris in die destydse era van federasie-rugby by die Young Standars-rugbyklub wat by die Boland-rugbyunie geaffilieer was. “Ek was vir ses jaar sekretaris tot met die eenwording en samesmelting van klubs in 1994. Young Standards en Louwvenians het saamgesmelt en die huidige Vredenburg-rugbyklub is gestig. Ek het ook by Vredenburg as tussentydse sekretaris vir een jaar diens gedoen en is in die verkiesing as die klub se sekretaris aangewys,” verduidelik hy.

Die daaropvolgende 20 jaar was hy onder meer sekretaris, klubkaptein, ondervoorsitter en voorsitter vir die plaaslike klub.

“Ek het onder die vaandel van Jan Talmakkies – wyle oom Jan Botter – Young Standards president, begin en daarna onder wyle Fred Louw, wyle Jockies Carolus en Paul Kuilders gewerk.

“Hulle was almal sterk leiers. In die nuwe era was dit Mervin Ruiters, Roderick Coraizen, Nelie Barends, Ralton van Neel en waar ek nou die voorsitter van die Vredenburg-rugbyklub is.”

Volgens Mitchell was hy gelukkig genoeg om deel te wees van verskeie hoogtepunte by die klub – die Presidentsbeker (2005), die klub se oorwinning van die Superliga in 2011 en die deelname aan die Grootuitdaagbeker, waar die klub tot die Gouebeker-uitspele in 2019 gevorder het, was van sy beste herinneringe.

Mitchell bedank die onderskeie borge en ondersteuners wat die klub oor die jare ondersteun het. Die borge sluit Duferco Steel Processing, Van Dyk Precast, L en M Bakwerke, Westland Construction, West Run Security en Funky Lemon in.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article