Johen Petersen leef vir sport en daar is geen kode waarvan hy nie hou nie.
Deesdae is hy ’n hokkiester en het onlangs in Mosselbaai tydens ’n skooltoer naam gemaak. Hier is hy gekies as deel van die span wat in Desember vir ’n hokkietoernooi Maleisië toe sal reis.
Hoewel Johen (16) deesdae in Moorreesburg in die koshuis is waar hy skoolgaan by die Hoërskool Dirkie Uys, is hy ’n bekende Weskus-gesig. Die tiener was in 2019 ook een van Weslander en SuperSport se Let’s Play-maandwenners. Daardie November was dit veral sy prestasies in judo, as lid van die Louwville-judoklub, wat hom die titel van sportster van die maand verower het.
Op laerskool het hy reeds in atletiek, rugby, krieket en tennis uitgeblink, maar nou is hokkie sy gunsteling-sportkode.
Sy ma, Francis, sê dit was wonderlik om te sien hoe Johen ontwikkel het oor die jare en hoe hy van krag tot krag gaan. Die finansiële uitgawes om Johen egter op die baan en veld te hou is ’n struikelblok, bieg Francis.
“Hy leef vir sy sport. Ek kry gereed foto’s en boodskappe van die mamma’s langs die veld op sportdae en hulle sê Johen leef hom heeltemal in wat hy doen,” vertel sy trots.
Francis, ’n kelner by die gewilde Café Graze in Vredenburg, meen geld moenie die ding wees wat haar kind terughou nie.
Sy het toe ’n plan beraam om geld in te samel vir die toer later vanjaar. Nou kan enigiemand deelneem aan haar lootjie vir R100 en die kans staan om ’n geskenkbewys ter waarde van R300 te wen.
Francis verduidelik wat borgskappe deels bemoeilik, is dat hokkie nie ’n wyd erkende sport is nie. “Dit is nie soos rugby nie. Hokkie is nie ’n bekende sport nie en borge is huiwerig om skenkings te gee. Dit is tog ’n sportkode waarmee ’n speler ver kan gaan, maar dit word nie dieselfde geag as ander sportkodes nie.”
Sy laat dit haar egter nie onderkry nie en intussen maak Johen gereed vir die Boland-hokkie proewe.
Verlede jaar is hy as HDU se top- sportster aangewys vir sy hokkie-prestasies en het volle erekleure ontvang.
Enigeen wat graag wil help kan gerus vir Francis ’n WhatsApp by 079 409 2284 stuur of ’n kaartjie vir die lootjie by Café Graze in Skoolstraat gaan koop.




