Joan Kruger met haar nuwe boek, Wieg.


Dis met groot opgewondenheid dat Joan Kruger haar nuutste boek, Wieg, vandeesmaand bekendstel.

Dié Paternoster-inwoner vertel haar ma het haar lief vir lees gemaak, en so het haar liefde vir skryf ontwikkel. “Ek word eintlik deur nuuskierig­heid aangedryf. En as ’n mens interessante dinge te wete gekom het, wil jy dit deel,” vertel sy.

Kruger het joernalistiek studeer en by verskeie koerante en tydskrifte gewerk, waaronder Sarie, Rooi Rose en Vrouekeur.

Wanneer dit by die skryf van ’n boek kom, is Kruger ’n ou hand en kenner. Haar nuwe boek Wieg is ’n niefiksieboek wat die ware verhaal vertel van Marie Buisset, wat as kind haar ouers en ook haar baba­boetie tydens die Hugenoot­vervolging in Frankryk verloor het. Om nie te veel weg te gee nie, deel Kruger net dat Maria deel geword het van die vlugtelingstroom en as jong meisie ’n skuif gemaak het na Amsterdam, waar sy waarskynlik as diensvrou gewerk het.

“ ’n Oorhaastige huwelik met die chirurg Jean Prieur du Plessis (drie keer so oud soos sy), wat vir hom ’n vrou in Nederland gaan soek het, het gevolg, en toe sy haar kom kry, was sy op die skip op pad na die Kaap. Dis die jaar 1700 en Stellenbosch, waar hulle hul kom vestig, was ’n gehuggie met net ’n handjievol huise.”

Volgens Kruger het sy van Maria bewus geword toe sy navorsing gedoen het vir haar doktorale verhandeling oor die rol wat vroue in die ontstaan van Afrikaans, ’n trotse kombuistaal, vervul het. “Die geskriffies van haar wat my aandag getrek het, was ’n verklaring wat sy vir die hof opgestel het oor ’n jaloerse minnaar wat ’n slavin met ’n mes gesteek het. Sy het die wond baie deeglik beskryf en die korrekte mediese terme gebruik. Die ander was ’n rekening vir ’n private kliënt, ’n ouerige vrou, wie se kolon sy gereeld gespoel het.”

Die boek het Kruger twee dekades geneem om te skryf en baie navorsing oor verskeie aspekte vereis. Met die klem daarop, was die lekkerste gedeelte van die boek die navorsing. “Die ontdekking van vergete dokumente; die reis na Amsterdam om daar in die stadsargief te werk, die skeepvaartmuseum te besoek en op ’n replika van ’n ou seilskip rond te klouter.”

Kruger raai mense aan om die boek te lees omdat dit ’n uitsonderlike ware verhaal van ’n buitengewone vrou is wat ’n mens met nuwe oë na die “toe en nou” laat kyk. “Dis die soort storie wat ’n mens nie sommer sou kon uitdink nie.”

Wieg sal beskikbaar wees by Bargain Books in Weskus Mall.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article