Die 19de Sondeza Afri-jeugleierskapskamp het vanjaar 50 jong skoolleiers van Suid-Afrika, Taiwan, Namibië, Duitsland en Hongarye verwelkom. Hulle het van 4 tot 13 Desember by die Ganzekraal-vakansieoord byeengekom.
Die visie van die kamp, wat jaarliks deur die Swartland-munisipaliteit – wat jeugontwikkeling as ’n voorkeur beskou – aangebied word, het ten doel om jong leiers vir die toekoms te ontwikkel.
Die inisiatief, wat gegrond is op drie pilare – ek, ons en die wêreld van werk – bring sedert 2004 jeugleiers van reg oor die wêreld bymekaar.
Vanjaar was geen uitsondering nie en afgevaardigdes het aan ’n program vol aktiwiteite deelgeneem. Vanjaar se program het onder meer spanbou-aktiwiteite, ’n besoek aan die!Khwa ttu San kultuur- en opvoedkundige sentrum, die Buffelsfontein-wildplaas en die Robbeneiland-museum ingesluit.
Die leiers het ook op emosionele intelligensie en die konsep van lokus van beheer en transformasionele leierskap gefokus. Die voorstelling van internasionale stalletjies, ’n konsert-opvoering en trommespel het weer hope vermaak opgelewer.



