Jeugdag word op 16 Junie oor die land gevier ter herinnering aan die jeug van 1976, wat opgestaan het teen die destydse Apartheidsregering se onderwysbeleid, waar baie hul lewe verloor het.
As ons terugkyk na hierdie gebeurtenis, wat byna 50 jaar gelede plaasgevind het, kan ’n mens nie anders as om te wonder waar ons jeug vandag staan ten opsigte van lewensaspekte wat saak maak nie.
En as ons noukeuriger na die syfers kyk, lyk dit asof die jeug van vandag meer terugslae as vordering beleef.
Meer jongmense beland agter tralies as ooit tevore. Geletterdheidskoerse daal eerder as wat dit styg. Dwelmverslawing onder jongmense is wydverspreid, net soos tiener- swangerskappe. En ’n algemene gebrek aan dissipline onder die jeug is daagliks sigbaar.
Dit is dus duidelik dat die jeug meer terugstappe neem as vordering maak.
Wie moet die skuld hiervoor kry?
Hoewel die regering verantwoordelikheid moet aanvaar vir ’n onderwysstelsel wat baie faal – veral vir minderbevoorregtes – begin onderwys steeds tuis.
As ’n kind nie ’n dak oor sy kop het nie, ’n voedsame maaltyd elke dag kry en ’n ouer hom in die regte rigting kan lei nie, is hy goed op pad om deel te word van ’n verlore geslag.
Streng maatreëls moet ingestel word om na die welstand van ons kinders om te sien.
Soos sake tans staan, sal dit ’n klad op die nagedagtenis wees van diegene wat hul lewe in 1976 in die stryd vir ’n beter toekoms verloor het.




