Die internet is ’n goeie bron van inligting om hulp te kry – veral vir tieners wat skaam is – maar niks is beter as om persoonlik met iemand anders te praat nie.
Jongmense kan soms voel daar is nie genoeg veilige plekke vir hulle om net hulself te wees nie. ’n Veilige, prettige ruimte is juis wat Mfesane en die Wes-Kaapse regering se Youth Café skep.
Jongmense in die streek kan die kafee in Velddrif of Saldanha besoek. Hier sal hulle by verskeie programme en projekte kan aansluit.
Benewens hulp vir skoolleerders (weeksdae tussen 14:00 en 16:00) kan jongmense ook ondersteuningsdienste en werksessies vir werkloses bywoon.
Alle dienste is gratis.
Die spanne by die kafee gebruik ’n holistiese aanslag en help met programme vir nuwe ouers, hulp spesifiek vir pa’s en selfs met berading. ’n Maatskaplike werker is byderhand om te help, en iemand wat maatskaplike hulp nodig het, asook hul gesinne, kan traumaberading ontvang.
Indien jy nie by die kafees kan uitkom nie, kan jy in Laingville, Hopefield en Middelpos by verskeie aanvullende programme aansluit.
Diegene wat nie skool voltooi het nie of na werk soek, kan ook hulp kry om hul vaardighede op te skerp en planne te maak vir moontlike loopbane.
Benewens die skoolprogramme vir leerders is jongmense tussen 14 en 35 jaar meer as welkom om hul plaaslike Youth Café te besoek.
Digitale opleiding, inligting oor entrepreneurskap, lewensvaardigheidsessies, gebeurtenisbestuur, hulp met werksetiek, leierskapontwikkeling, kreatiewe ontwerp, en projekbestuur wag vir almal wat hul vaardighede wil uitbrei.. Velddrif se kafee is by Valkenlaan 4, Noordhoek, en dié van Saldanha is in die White City-veeldoelige sentrum.
Stuur e-pos na cozetta@mfesane.org.za vir nog inligting.




