Ten viering van Jeugdag het #StraatKindVirJesus onder Grace Fellowship Ministries in samewerking met Lethemba Care Projects en Trailblazers ’n Jeugdag- geleentheid gehou.
Die geleentheid het Saterdag 15 Junie by die Witteklip Sportgronde plaasgevind. Volgens Lee-Ann Galant van #StraatKindVirJesus was die dag ’n sukses. Met omtrent 450 mense oud en jonk wat dit bygewoon het, was daar ’n atmosfeer van samehorigheid.
Verskeie plaaslike kunstenaars het opgetree asook indrukwekkende getuienisse en demonstrasies deur die brandweer en die Saldanha Seekadette. “Die kinders het dit baie geniet. Daar was mammas en pappas wat dit ook geniet het onder die geklank van die jeug,” sê Galant.
Wat vir haar uitgestaan het, is die hoeveelheid talent in die gemeenskap. “Die kinders se harte was oop om te sing, te dans en te rymklets vir die Here, en dit maak my hart baie dankbaar.” Galant bedank elkeen wat deel was van die dag en tot die sukses bygedra het.




