Jetro Cleophas (17), ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Dirkie Uys, het almal se verwagtinge oortref nadat hy daarin geslaag het om een prestasie ná die ander in te ryg, ongeag ’n onstuimige begin van sy hoërskoolloopbaan.
Jetro, ’n inwoner van Darling, het sy skoolloopbaan by die Laerskool Darling begin en was baie teleurgesteld toe hy nie plek by die Hoërskool Swartland of Schoonspruit Sekondêr kon kry nie.
Vooruitsig Primêr, wat leerders slegs tot gr. 9 kan akkommodeer, was sy enigste opsie en het spesiaal vir hom plek gemaak. Die toekoms het vir Jetro bleek gelyk totdat plaaslike inwoners besluit het om in te gryp.
Talle oproepe is gemaak, gesprekke is gevoer en hande is uiteindelik na die Cleophas-gesin uitgereik om sy hoërskoolloopbaan by HDU te help finansier, terwyl sy ouers, Chris en Cathy, hul vingers behoorlik stomp gewerk het om hul seun se plek te verseker.
Vandag is hy ’n volwaardige Tier wat oor en oor bewys het hy hoort daar.
Slimsun Swartland Solar Park, wat onder meer Jetro se koshuisverblyf betaal het, het gesê hulle is baie trots om met hom geassosieer te word.
Volgens Slimsun was daar nie juis iets spesifieks wat hulle oortuig het om hom te help nie, maar eerder die Darling-inwoner Hannelie Neethling wat aangehou het om hulle te oortuig dat hy verdienstelik is, asook sy ouers se gesindheid dat hulle enigiets sal doen om vir hul seun net die beste opvoeding te gee.
Jetro het aan die begin van gr. 9 by HDU aangesluit. Hy bieg en sê die koshuis was aanvanklik ’n groot uitdaging weens sy nuwe omgewing. Vandag dink hy terug en besef dit was nie regtig so erg nie.
Jetro is by die onlangse prysuitdeling van HDU met ’n string prestasies vereer.
Hy was behoorlik uit die veld geslaan toe hy die prys vir die beste rugbyspeler van die jaar ontvang het.
Jetro is baie lief vir sport en boonop veelsydig op die gebied. Nie net speel hy stut vir die skool se o.19A-rugbyspan nie, maar hy is ook ’n kranige krieketspeler, hamergooier (waar hy derde vir Wes-Boland gekom het) en nou ook tennis.
Dit is egter nie waar sy prestasies ophou nie – vir Jetro kom akademie eerste. Hy het akademiese toekennings gekry vir onder meer Afrikaans en RTT en is boonop as die koshuis se hoofseun vir 2024 aangewys. Jetro het verder ’n erediploma ontvang vir sy “vele aktiwiteite waarin hy ’n daadwerklike bydrae gelewer het en dus as een van die staatmakers van die skool beskou word”, lui die beskrywing.
Sy gunstelingvakke is wiskunde en rekeningkunde.
Hy kyk veral op na sy wiskundeonderwyser, Albert van Zyl, wat altyd die beste uit sy leerders probeer kry. “Hy is passievol en altyd gretig om te help.”
Sy ouers is baie dankbaar teenoor die onderwysers by die Laerskool Darling wat die grondslag gelê het vir wat ’n blink toekoms kan wees.
“Ons is trots; sy harde werk, dissipline en skoolwerk kom eerste voor ander dinge. Ons as ouers het hom bly aanmoedig om hard te werk oor die jare,” voeg sy pa by.
Die Cleophas-egpaar bedank elkeen wat uit hul pad uit gegaan het om Jetro te help, asook vir hul vertroue in en ondersteuning van hul seun.
Sy boodskap aan ander jong mense wat nie die geleentheid gegun is wat hy gekry het nie, is een van aanmoediging.
“Moet nooit ophou hard werk nie. Hou net aan. Jou geleenthede sal kom. Vertrou op die Here. Hy sal vir jou deure oopmaak,” sê die Christelike kringleier van Darling. “En weet dat jy nie alleen is nie. Praat met mense daar buite.”
Jetro is nog altyd gemotiveer deur die gesegde dat as jy eendag suksesvol wil wees, jy hard moet werk daarvoor.
Volgens hom moedig toppresteerders hom ook aan.
“Ek wil nie soos hulle wees nie, maar wil my eie volle potensiaal bereik.” Hy vertel hoe streng sy ouers is wanneer dit by sy punte kom, wat opsigself motivering is om harder te werk, skerts hy.
Hoewel die afgelope eksamen vir Jetro stresvol was, is hy verlig dat dit verby is. Hy sien daarna uit om volgende jaar aansoek te doen by die Universiteit Stellenbosch om verder in rekenaartegnologie te gaan studeer.





