Die ryk Suid-Afrikaanse en inderdaad Afrika-jazztradisie is die strelende fokus van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se sonsak-piekniek aanstaande Saterdag (25 Februarie) wanneer bekende jazzsterre hulde bring aan dié musiekstyl wat in die vasteland en haar mense gewortel is.
Chadleigh Gowar se orkes beloof om die gehoor op ’n musikale reis te neem terwyl die son agter die ikoniese monument wegsmelt.
Die res van die talentvolle en ervare groep bestaan uit Ramon Alexander op klavier, Heinrich Isaacs op saksofoon, asook bekendes soos Ernie Smith en Sammy Webber. Gowar is ’n Gold Standard Bank Ovation- bekroonde kunstenaar van die Nasionale Kunstefees en baskitaarspeler op kykNET & kie se gewilde Koortjies saam Jonathan Rubain. Hy is ook bekend om sy lang musikale verbintenis met die Suid-Afrikaanse gospelgroep Dumisani, asook met Alexander.
Die vertoning begin om 18:00 in die Tuinteater op die sagte grasperk aan die voet van die monument – net betyds vir ’n pragtige sononder en maanopkoms. Gaste kan vooraf die monument, ’n simboolbelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers kan die omgewing en tydelike uitstallings verken; buitelug-speletjies is vir kinders ingerig.
Gaste is welkom om hul eie piekniekkos en drankies (geen glas) te bring of ’n piekniekmandjie by Die Suikerkan by 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings verkoop. Oorgenoeg gratis en veilige parkering, asook ’n pendeldiens, is beskikbaar. Onthou warm klere, ’n kombers of kussings en ’n flits. Helaas word geen honde of vure toegelaat nie.
Kaartjies, wat na verwagting gou gaan uitverkoop, is vooraf by Computicket en die Taalmonument teen R150 beskikbaar. As kaartjies nog beskikbaar is, sal dit van 17:00 af by die hek verkoop word.
. Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en -museum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.



