Jay-Dee Pienaar (voor) saam met sy trotse ouers, Bertus en Chantel Pienaar.Foto: Verskaf/Pereira Photography


Obviously dien ons ’n God van wonders, want volgens die spesialiste moes Jay-Dee nie nou al so goed herstel het soos wat hy het nie.”

Só gesels Chantel Pienaar, ’n kleremaker van Longacres, Langebaan, oor haar matriekseun, Jay-Dee Pienaar (18), wat vroeër vanjaar naby hul huis op ’n kleinhoewe in ’n motorfietsongeluk op sy kop geval en erge breinbeserings opgedoen het.

Jay-Dee het al die spesialiste verkeerd bewys en het op 30 September saam met sy skoolmaats van die Longacres-private skool by die Langebaan-gholflandgoed matriekafskeid gehou.

Dit was ’n verskriklike spesiale dag vir die Pienaar-gesin.

“Ons het nie gedink hy sou in staat wees om sy matriekafskeid by te woon nie. Hy het dit verskriklik geniet en was baie opgewonde. In sy hart was hy baie trots en dankbaar om daar te kon wees.”

Sy was ná die ongeluk oorweldig deur die gebedsgroepe wat oor Suid-Afrika heen geskep is om vir Jay-Dee te bid.

“Volgens die spesialiste moes Jay-Dee nie nou al so goed herstel het soos wat hy het nie. Die spesialis het vir hom gesê hy moet besef hy is ’n wonderwerk. Hy moes eintlik nog ’n in hospitaalbed gelê het en nie kon praat nie, maar hy het wonderbaarlik herstel.”

Jay-Dee het genoegsaam herstel dat hy Dinsdag 10 Oktober sy eerste volle dag terug by die skool kon meemaak, wat hy baie geniet het. Volgens Chantel moet hy nog vir ’n jaar of twee met spraak- en ander terapieë en rehabilitasie voortgaan vir die kognitiewe werkinge van sy brein om volkome te herstel, en hy sal dus nie vanjaar sy matriekeindeksamen kan voltooi nie.

Vir eers is hy terug by die skool en vat elke dag soos dit kom. Hy gaan probeer om volgende jaar in Junie wel sy matriekeindeksamen te skryf en die Pienaars glo, vertrou en bid dat Jay-Dee so sal herstel dat hy sy toekomsdrome sal kan uitleef. Hy wil nog oorsee gaan en het baie doelwitte met sy lewe.

“As familie kan ons net baie dankie sê vir almal se gebede, onderskraging en boodskappe, en die uiters professionele diens by die Mediclinic Milnerton en die Vincent Pelotti-hospitaal, veral dr. Andrew Matole en dr. Peter Roth.”

Hulle is ook dankbaar teenoor Edmund Barkhuizen van die Longacres-private skool vir sy onderskraging.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article