Jarelange vriendskap is ’n voorreg wat nie almal ken nie.
Vyf gr. 12-leerders van die Hoërskool Vredenburg deel dié hegte band van kleins af. Dié span vriende het Saterdag 26 Augustus die eer gehad om saam hul matriekafskeid te vier.
Namate die jare aangestap het, het vriende gekom en gegaan, maar dié vyf stap vandag steeds die pad saam. Hulle stem oor een ding saam – hulle sien mekaar as broers.
Jaco Basson vertel die vriendskap beteken vir hom baie meer as wat woorde kan beskryf.
Phillen Faro beaam dat hulle mekaar as familie sien. “Dis skaars dat jy nog [sulke] vriende kry – regte vriende wat altyd agter jou staan, omgee vir mekaar, grappies maak en daaroor lag,” vertel hy.
Jemaine Leeuw stem saam hul vriendskap beteken vir hom baie. “Die rede hoekom ons nog saam is, is omdat ons baie tyd saam deurbring en selfs saam aan aktiwiteite deelneem en dieselfde soort stokperdjies het. In graad elf kon ek sweer ons het elke aand op video-oproepe gesels en huiswerk gedoen of net gesels.”
Volgens Jaco is hul vriendskap verskriklik random. “Ek voel jammer vir enige mens wat ons gesprekke moet hoor, want hulle gaan 100% nie weet waaroor ons praat nie, maar dit is een van die dinge wat dit vir my so spesiaal maak. Ons vyf kan mekaar steeds verstaan, al luister ons net met ’n halwe oor.”
Soos in enige verhouding stem hulle saam dat dit nie altyd maanskyn en rose is nie, maar hulle sit tyd in om hul verskille op te los en aan te beweeg.
Jaco se ma, Ronel Basson, sê die groep is altyd daar om mekaar te ondersteun, of dit nou kom by sportgeleenthede, opvoerings, verjaarsdae of ander geleenthede. “Elkeen dra die ander se belange op die hart. Almal het die mooiste maniere en respek vir ouer garde. Ek hoop en vertrou dat hulle ná matriek steeds kontak sal behou.”
Jamie Leeuw voeg by hoewel hulle elkeen na verskeie universiteite toe gaan, voel hy die vriendskap sal steeds sterk staan.
“My wense vir ons vriendskap is vir ons om die beste te presteer wat [ons kan] en nog herinneringe te maak.”





