Al het haar deftige uitrusting vir die negende nasionale prysuitdeling van die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie ’n hoed benodig nie, dra die polisieskoonmaker Jane Skippers (52) verskeie hoede in haar daaglikse lewe.
Dié besonderse vrou van Lutzville se eerste hoed is as die polisiekantoor op die dorp se staatmakerskoonmaker, en dit is ook waarvoor sy Vrydag 16 Februarie die nasionale toekenning vir uitnemendheid gekry het.
Haar kollegas, vriende en die gemeenskap was supertrots op dié toekenning, vertel Jane – soveel só dat dit “die hele Facebook vol was”.
“My kollegas was só trots; almal het vir my boodskappe gestuur. Hulle was almal in die wolke.”
Skippers het dié toekenning in die junior afdeling van die administrasie-afdeling voor baie ander benoemdes weggeraap – “strawwe kompetisie”, volgens lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris.
Skippers lewer al 21 jaar diens aan die polisiekantoor. “Ek leef my hier uit. Ek geniet dit om met my kollegas, die bevelvoerders en al die mense by die stasie te werk,” sê sy.
Die vliegtuigrit – haar eerste – was alles deel van dié hoogtepunt in haar loopbaan om self die prys by die Gallagher-konverensiesentrum in Midrand te ontvang.
Verlede jaar het sy die prys vir die Wes-Kaap gekry, en vanjaar het sy in haar hart net geweet sy gaan dit nasionaal kry. Sy het goed gevoel om die prys voor die groot gehoor te ontvang.
“Omdat ek in myself glo, het ek geweet ek gaan daai prys kry. Ek het net vir die Here op daai oomblik dankie gesê, en ek was opgewonde. Ek het wow oor myself gevoel.”
Jane swaai egter alle lof aan die Here toe dat dié geleentheid oor haar pad gekom het. Sy verwys na 1 Samuel 7:11, waar Samuel ’n klip Ebenhaéser noem en sê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.
“As ek nie die Here hierin geken het nie, sou alles tevergeefs gewees het.”
Aanvanklik sou sy nooit kon droom dat sy so ’n prestasie sal kan behaal nie. Hieroor bedank sy veral haar bevelvoerders, soos haar ondersteuningsdiensbevelvoerder, Lizle Bishop, wat haar vir die toekennings ingeskryf het. Hulle het dit ook vir haar moontlik gemaak om dit te gaan ontvang. “Ek het regtigwaar nie gedink dat ek só ver in my werk by die polisie sou kon gaan nie.” Dit was ook haar eerste keer in Pretoria, Midrand en Johannesburg.
Op 1 Desember sal dit 22 vol jare wees dat sy elke dag sorg dat die aanklagkantoor, kantore, badkamers en die selle silwerskoon is.
Hoewel dit haar passie is, wat sy elke dag met oorgawe doen, dra Jane ook ander hoede, of “baadjies” soos sy daarna verwys.
Sy gaan maak dikwels sommer gou kos by haar huis as die kosverskaffer van die aangehoudenes in die selle probleme ondervind.
Sy lewer ook motiveringspraatjies by skole en vrouenetwerke en voed mense op oor geslagsgebaseerde geweld en tienerswangerskappe.
As deel van die polisiekantoor se traumaberadingspan kry sy met alle soorte sake te doen.
“My hart gaan uit na kinders. Dit is nie ’n lekker gevoel wanneer jy met hulle moet gesels oor seksuele trauma soos verkragting waardeur hulle gegaan het nie. Dit is hartseer om met sulke slagoffertjies te praat.”
Jane begin nooit ’n gesprek met ’n kind voordat sy eers saam met hulle gebid het nie.
“Ek probeer dit altyd vir hulle beter maak. Dit is nooit ’n lekker situasie nie.”
Sy probeer ook haar bes om kinders op te voed oor hoe om hulself uit die gevaar te hou. Jane, wat al 28 jaar met Enrico Skippers getroud is, is boonop ma van drie kinders (twee pleegkinders) en ouma vir vier kleinkinders.




