Benoude toeskouers het hul asems opgehou . . .

’n Omgeboude renmotor het in ’n dramatiese paar sekondes, wat vir sommige van die toeskouers soos ’n ewigheid gevoel het, van die Weskus-ovaalbaan van die pad af gejaag, in die lug getol en die grond so hard getref dat die stofwolke staan.

Almal wat Saterdag (5 Maart) se ovaalbaan-geleentheid bygewoon het, was verlig om te sien dat die bestuurder, Jacques van der Merwe, ongedeerd van die toneel af weggestap het.

Van der Merwe se ongeluk was nie die enigste groot skok vir die dag nie aangesien Hansie Moore met sy “Blou Pou” later ook in ’n muur vasgejaag het nadat die versneller glo vasgehaak het.

Almal was baie bekommerd oor Moore maar hy het met net ’n gevoelige enkel van die toneel af weggestap.

Sy blou renmotor het ongelukkig baie skade opgedoen.

Die motorsport-fotograaf Laetitia Bester het die dramatiese oomblikke van die twee botsings met haar kamera vasgevang.

Marisca de Wet, die ovaalbaan se sosialemedia-bemarker, het gesê ten spyte van die botsings was die geleentheid ’n sukses en soos elke ovaalbaan-geleentheid deur die motorsport-deelnemers en -toeskouers baie geniet. Renjaers van die Weskus, Springbok en Worcester Kleinplasie het aan die renne deelgeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article