Met ’n doelwit in gedagte is Denmar Jacobs gereed om sy land te verteenwoordig by die Wêreldatletiek- o.20-kampioenskap in Cali, Colombië.
Dié oudleerder van die Hoërskool Hopefield het in April vanjaar die Suid-Afrikaanse mansrekord in ’n tyd van 13,44 sekondes in die 110 m-hekkies behaal. Jacobs sê hy wil graag die rekordtyd wat hy behaal het by die geleentheid in Colombië verbeter.
“Weer eens is dit ’n groot eer vir elke atleet om sy land internasionaal te kan verteenwoordig. Ek voel baie emosioneel as ek dink dat ek eendag vir my kind met trots kan sê ek het my land verteenwoordig.”
Die kranige atleet vertel hy het eie doelwitte gestel, soos om ’n goue medalje en nuwe rekords te behaal, “maar die doel is om te gaan en almal in die land wat my ondersteun en in my glo, trots te maak.”
Vanjaar is Jacobs se laaste jaar as ’n junior atleet. “Die hekkies se hoogte vir senior atlete is 6 cm hoër as die vir junior atlete, so my fokus is om vir senior hekkies te begin oefen sodat ek aan my tegniek kan begin werk en voorberei vir die Olimpiese Spele.”
Jacobs moedig atlete aan om in hulself te glo en na hul doelwitte te strewe.
“Gee 110% in elke oefensessie. Niks is onmoontlik as jy hard werk nie. Vermy mense wat nie jou doelwitte verstaan en ondersteun nie. Go big or go home.”




