Gino Dira se ouers is hoopvol dat hy sal terugkeer.


’n Jaar ná sy verdwyning is die wonde nog rou vir Gino Dira se pa, wat nog vele vrae het waarmee hy worstel wanneer dit by die verdwyning van sy seun kom.

Gino, ’n inwoner van Saldanha, het Vrydag 29 Julie 2022 verdwyn nadat hy ’n middagstappie geneem het. Tot nou toe was daar nog geen teken van hom nie. Soos sy ma, Jamiela Dira, destyds aan Weslander vertel het, was dit nie ongewoon vir Gino om smiddae te gaan stap nie, maar hierdie keer het hy nie teruggekeer huis toe nie.

Sy pa, Samuel, sê die situasie spook dag en nag by hom en hy vat dit dag vir dag. “Daar het nog nie ’n liggaam uitgespoel nie. En daar is nog nie bevestig dat sy lyk in die lykhuis is nie, so ek glo hy lewe nog.”

Aangesien selfs die polisie steeds geen antwoorde het nie, is dit die gedagte dat sy seun nog lewe, al wat Samuel die krag gee om deur die dag te kom. Hy is gereed om enigiets te verwag en glo dit sal rustigheid bring. Wat dit vir die familie egter nog moeiliker maak, is die feit dat hulle nog ’n verjaarsdag sonder Gino sal deurbring. Dit is Sondag 13 Augustus sy 26ste verjaarsdag.

Samuel klou vas aan die positiewe en hoop en glo vir ’n wonderwerk.. Enigiemand met inligting kan die Saldanha-polisie by 022 714 8333 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article