Die afgelope twee jaar waarin ons as mens moes leer om saam met die uitwerking, verandering en verliese van die pandemie te leef en daarmee vrede te maak, het vir die meeste mense groot persoonlike groei ingehou. Dit het ons werklik gedwing om oor ons prioriteite en wat belangrik is in die lewe, te besin. Dit het ons ook geleer om minder te tob oor die dinge buite ons beheer en om dankbaar te wees vir wat ons het. Dit gesê, is ons as mens tog so geneig om vas te kyk teen ons eie “swaarkry” en tekortkominge terwyl ons in die meeste gevalle eintlik maar met die spreekwoordelike witbrood onder die arm kla.

Verhale soos dié van Gerald January oor wie op vandeesweek se voorblad berig word, bring egter weer broodnodige perspektief en laat ’n mens eintlik skaam en ons ou probleempies lyk skielik veel kleiner. Gerald se verhaal wys weer eens hoe magtig die brein is en is inderwaarheid ’n lewende voorbeeld dat as die wil daar is, enigiets moontlik is. Soveel keer laat ons ons onderkry deur dinge wat nie ’n permanente invloed op ons dag-tot-dag lewe het en in alle waarskynlik ook nie oor ’n paar jaar gaan saakmaak nie. Ons laat toe dat dit ons terughou om ons volle potensiaal te benut en deur dit te doen aanvaar ons, dalk onbewustelik, die voorreg om sonder moeite rond te beweeg en dinge te kan doen as vanselfsprekend. Gerald se absolute braafheid en deursettingsvermoë om ’n droom van hom te bewaarheid sonder dat sy omstandighede hom terughou, moet opnuut dankbaarheid in ons terugbring en ons aanspoor om ons eie drome na te jaag, uitdagings ten spyt!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article