Vandale het dié verlate kerksaal in Louwville kaalgestroop. Foto: Noluvu Ludidi


Die verlate kerksaal op die hoek van Maclon- en Kootjieskloofstraat in Louwville is ’n seer oog in die gemeenskap.

Die gebou staan al vir ’n geruime tyd leeg en is intussen geplunder en gevandaliseer. Volgens Tereza Burger, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), is die gebou op munisipale grond geleë.

“Die grond waarop die kerkgebou geleë is, vorm deel van ’n goedgekeurde behuisingsontwikkeling. Ná ’n lang regstryd met die kerk om die gebou te ontruim, is nagskof-veiligheidsbeamptes gekry om die eiendom te beveilig. Vandalisme het egter gedurende die dag plaasgevind,” sê Burger.

Soos Burger noem, is ’n proses gevolg om die raad se goedkeuring te kry om die gebou te sloop soos deur wetgewing voorgeskryf. Hierdie goedkeuring is in Junie vanjaar verkry.

“ ’n Statutêre kennisgewing oor openbare deelname sal in die Weslander gepubliseer word vir openbare kommentaar oor die sloping. ’n Spesiale permit moet ook vir die sloping verkry word aangesien die struktuur van asbes saamgestel is.”

Burger voeg by dat sodra die advertensieproses voltooi is en die spesiale permit verkry is, sal die proses vir die aanstelling van ’n kontrakteur gefinaliseer word en die tydraamwerke vir die slopingsproses gekommunikeer word. “Maatreëls is ook ingestel om die gebou langsaan te beveilig om toegang en verdere vandalisme te voorkom.”

Dit is die mening dat die gemeenskap ’n mate van verantwoordelikheid het om munisipale infrastruktuur te beskerm deur die oë en ore van die munisipaliteit te wees en om enige vorm van misbruik of vandalisering van munisipale infrastruktuur in sy gebied aan te meld,” voeg Burger by.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article