Bottels soos dié wat reëlmatig langs ’n pad geplaas word, almal in dieselfde rigting gedraai, kan moontlik daarop dui dat misdadigers besig is om jóú buurt deur te kyk – veral as elke bottel ’n bietjie water in het sodat dit nie weggewaai word nie. Neem ’n foto en gooi dit weg as jy dalk op so iets afkom. Foto: Weslander


Baie mense sien raak dat vreemde motors in hul buurt rondry – soms met getinte vensters – en hulle sien vreemde mense langs die pad stap, maar dink nooit daaraan dat dit dalk voortekens van inbrake of rooftogte kan wees nie.

Rowers en inbrekers hou hul beplande teiken-eiendomme selfs maande voor die tyd dop om mense se daaglikse roetine te bepaal, sodat hulle weet wat die beste tyd is om aan te val.

Indien jy vermoed dat jou eiendom of jou buurt dopgehou word, begin sorgvuldige notas maak van alles wat jy sien.

Van die algemeenste voortekens om voor uit te kyk is: 

  • ’n Verdagte motor wat ’n tyd lank in die straat geparkeer staan. As die voertuig boonop donker getinte vensters het, stel onmiddellik die polisie in kennis. Misdadigers gebruik stilstaande motors met donker vensters om teiken-eiendomme dop te hou. Skryf die registrasienommer van die verdagte motor neer. As iets skeefloop, is daar nuttige bewyse vir wetstoepassing. 
  • Onbekende mense wat skielik gereeld in die straat af stap of kamstig in gewone klere “draf”, is ’n rooi vlag.. Mense wat verby huise loop en maak asof hulle ’n selfie voor ’n ingang of oprit neem, of maak of hulle in iemand se groen asblik krap, maar eintlik besig is om selfoonfoto’s te neem. Probeer ’n foto van so iemand neem en stel die polisie in kennis.
  • Iemand wat jou eiendom met ’n verkyker dophou, is verdag, en moet aangemeld word.
  • Wees bedag op “noodgevalle”: Wys mense weg wat jou agterdogtig maak, al beleef hulle ’n “noodgeval” soos ’n motor wat onklaar geraak het, dat hulle desperaat die badkamer moet gebruik, of dat hulle ’n mediese noodgeval het. Weier onbekende mense eenvoudig toegang; wees eerder agterdogtig as spyt.
  • Inbrekers en rowers toets baiekeer vooraf die huiseienaar se reaksie deur ’n klip byvoorbeeld deur ’n syvenster te gooi of buiteligte se gloeilampe af te skroef. Hulle kyk dan hoe gou dit herstel word. Koerante, plakkers en strooibiljette word ook gebruik om teiken-eiendomme mee te merk. Mense moet veral bedag wees op vreemde “merkers” wat by huise – net buite die erf of in die straat – geplaas word.
  • Rowers kommunikeer subtiel met mekaar deur artikels of tekens te gebruik wat die meeste huiseienaars sal ignoreer as blote “vullis” wat deur die wind aangewaai is of deur iemand gemors is, soos platgetrapte koeldrankblikkies of plastiek- koeldrankbottels gevul met gekleurde water.
  • Die artikels word op ’n spesifieke manier gerangskik om ’n sekere boodskap oor te dra. Twee groot klippe bymekaar geplaas beteken byvoorbeeld die huisbewoners is twee bejaarde individue; wit voorwerpe soos stringe skoon toiletpapier beteken die huis is ’n maklike teiken; rooi voorwerpe (’n koeldrankblikkie of lap) impliseer weerstand (die huiseienaar is moontlik gewapen en kan homself verdedig). So beteken ’n Z op ’n stopteken of op die pad dat die huise in daardie straat gemerk is. Blou voorwerpe beteken weer dat die huis ’n maklike teiken is omdat daar iemand werk wat bereid is om met die rooftog te help.
  • Verskeie klippe in ’n ry spesifiseer die aantal mense in die huishouding. Stappeltjies klein klippe dui op die hoeveel honde wat daar op die erf is. Groen voorwerpe dui rigting aan.
  • Simba of Lays-tjipspakkies wat netjies gevou is of soms ’n klip in het, of skoene of skoensole naby ’n hek dui aan of die eienaar by die huis is of nie.. Vreemde artikels kan ook insluit kartondose, bakstene of selfs ’n boomtak.

Mense word ten sterkste aangeraai om onmiddellik onverklaarbare merkers naby hul huise te verwyder – veral as dit onnatuurlik “opgestapel” is.

As dit werklik net vullis is, troos jouself daaraan dat jy ten minste jou omgewing skoonhou.

Bronne: ADT, Briefly.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article