“Hou op julle kinders onder die bed wegsteek; hou op julle kinders in die kaste wegsteek as die polisie hulle soek.”
Dit was die woorde van ds. André Botha van die VGK kerk in Darling Maandagaand aan inwoners.
“Ons het toegelaat dat vreemdelinge ons dorp oorneem en dit is net ons wat dit kan stop.”
Botha was een van die sprekers tydens ’n vreedsame betoging deur inwoners van die eens rustige Swartlandse dorpie nadat geweld in die dorp opgevlam het.
Twee jong mense is die afgelope naweek vermoor terwyl nog een om sy lewe veg en ander beseer is ná verskeie voorvalle van geweld in die gebied.
Inwoners het saamgesing dat hulle keelvol is vir die geweld nadat die 19-jarige buurtwaglid Tristan Korah Saterdagaand vermoor is.
“Hy is vermoor terwyl hy besig was om ons dorp en inwoners veilig te hou,” het Jacobus Damon, voorsitter van die Darling-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gesê.
Volgens Damon het Tristan, wat ’n passie vir sy gemeenskap gehad het, ’n minderjarige verdagte gejaag nadat ’n groep vroeër die aand met pangas onder mekaar amok gemaak het.
Hy wou die gevaarlike wapen van die 15-jarige afneem toe hy met ’n skerp voorwerp gesteek was.
Tristan is deur sy identifikasiekaart met sy gesigsfoto, wat op sy bors gehang het, gesteek, het Damon gesê.
“Tristan wou reeds van kinderdae af saam met lede van die buurtwag stap en sy passie om ander te beskerm en te help, was aansteeklik,” vertel hy.
Volgens die oorledene se ma, Helerika Korah, wou haar kind ná skool ’n polisieman word. Die graad 11-leerder van Saxon Sea Sekondêr is dood terwyl hy Darling ’n veiliger plek wou maak, sê sy ma.
“Hy het elke naweek saam met die buurtwag gestap en was ook die jongste lid van die buurtwag.”
Die 15-jarige verdagte is weens die moord op Tristan aangekeer.. In nog voorvalle is ’n vrou dood ná ’n stryery tussen twee vroue, waarna die een die ander met ’n skerp voorwerp gesteek het.
’n Man, wat Vrydagaand in nog ’n voorval in die bors geskiet is, veg steeds om sy lewe in die hospitaal, het sers. Johnatan Filander van Darling-polisie bevestig.





