Om op 63-jarige ouderdom toerusting te dra wat etlike kilogram weeg, swaar bande te sleep en oor ’n hoë muur te klim, is nie vir almal nie.
Piet Nieman, ’n inwoner van Velddrif, is egter ’n voorbeeld vir baie dat ouderdom net ’n syfer is. Nie net neem Piet vanjaar vir die vierde keer deel aan die “SA Toughest Firefighter Alive”-kompetisie (TFA), wat in Oktober in Mosselbaai plaasvind nie, maar hy gaan ook later vanjaar Suid-Afrika by ’n TFA-kompetisie in Denemarke verteenwoordig.
Talle brandweermanne en -vroue kom by die kompetisie in Mosselbaai bymekaar om teen mekaar mee te ding en aan verskeie items wat hulle fisiek en geestelik toets, deel te neem. Dit is die vierde keer wat Piet deelneem.
“Ek het in 2019 vir die eerste keer ingeskryf. As jy my moet vra hoekom ek besluit het om deel te neem, gaan ek vir jou jok,” vertel hy met ’n lag. Piet het in 1985 by die brandweer aangesluit en “per ongeluk” daar beland, soos hy dit stel. Hy vertel dat hy destyds op 23-jarige ouderdom geboer het, maar dinge het nie so goed uitgewerk nie. “Ek het nie geweet wat om te doen nie, en het toe toevallig by die brandweer geëindig.
“Ek het besluit as ek iets doen, moet ek dit geniet, en ek het alles ingesit en doen dit nou nog.”
Piet was tot die 2000’s ’n brandweerman, waarna hy by die Sea Safety Training Group in St. Helenabaai aangesluit het, waar hy vandag nog ’n fasiliteerder is. As die oudste deelnemer aan die kompetisie glo Piet daaraan om altyd fiks te bly – iets wat hy deurentyd handhaaf.
Om vir die kompetisie voor te berei, sleep Piet swaar bande waarvan die swaarste 80 kg weeg. Hy simuleer die hele hindernisbaan met bande. Dit is min of meer dieselfde gewig van die brandslange en ander toerusting wat in die kompetisie gebruik word.
“Ek oefen al van 2019 af en het nog nie opgehou nie.” Piet hou ten alle tye sy pas dop en oordoen dit nie.
Weslander wou by Piet weet hoe dit voel om die oudste deelnemer te wees.
“Ek kry skoon hoendervleis oor hierdie vraag. Om eerlik te wees, die jongspan waardeer my deelname.”
Piet beskou homself as ’n inspirasie en voorbeeld vir hulle.
Tydens sy vorige deelnames, sê Piet, was die ondersteuning en kameraadskap van almal in die kompetisie oorweldigend en iets wat vir hom baie spesiaal is. Met sy goeie deelname aan die kompetisie is Piet uitgenooi om Suid-Afrika in die TFA-kompetisie by die “World Firefighters Games” te teenwoordig, wat tussen Saterdag 7 en Saterdag 14 September in Denemarke plaasvind. ’n Geleentheid waarna Piet baie uitsien. Die TFA-toernooie is ’n gereelde kompetisie in baie lande oor die wêreld heen.
TFA-kompetisie verhoog brandweermanne en -vroue se fiksheid en vaardigheidsvlakke om ’n beter diens aan die gemeenskappe te lewer.
Om hierdie deelname ’n werklikheid te maak en sy land te teenwoordig, het Piet geld nodig wat sy verblyf, vliegkaartjies, vervoer, kos en meer moet dek.
Indien jy ’n skenking wil gee, bel Piet by 082 377 5586 of Mark Smith, TFA Suid-Afrika se direkteur, by 071 676 4272.





