Die tafel was Saterdag 29 April in Vredendal gedek vir een van die grootste derbies in die Noordweste tussen die Invincibles-rugbyklub en die Vanrhynsdorp Eagles.
Die wedstryd het met ’n volgepakte Vredendal-Noord-sportterrein al die drama gelewer. Die Vanrhynsdorp Eagles was rats uit die blokke en het vinnig punte opgestapel. Die Eagles het die Invincibles met die wind agter hul seile op die agter voet gehou.
Eagles het rustyd met ’n voorsprong van 19-6 omgedraai.
Die tweede helfte was belaai met drama en die humeure het by tye opgevlam. Met minder as 10 minute oor het die Eagles ’n strafskop reg voor die pale gemis, maar dit kon nie die drama wat sou volg, voorspel nie.
’n Drie is aan die Eagles toegeken en hulle het die voorsprong met minder as vyf minute se speeltyd op die stophorlosie oorgeneem. ’n Skrum is in die doodsnikke van die wedstryd aan Invincibles toegeken en Diagho “Die Migg” het deur die Eagles se verdediging gegly en die wendrie gedruk.
Invincibles het die wedstryd 28-26 beklink.
Die wenspan het hul eie sowel as hul teenstanders se ondersteuners, wat bygedra het om ’n onvergeetlike atmosfeer te skep, bedank.. Die uitslae van die klubs se ander spanne was: Invincibles C 29-17 Eagles en Invincibles B 13-11 Eagles B.





