Ten spyte van organisasies, sakelui en politieke partye se aandrang dat die nasionale inperking opgehef moet word, is die Covid-inperking tot Dinsdag 15 Februarie verleng.

Intussen maak die provinsiale departement van gesondheid gereed om studente wat binnekort na kampusse terugkeer, ingeënt te kry. Tydens Donderdag (13 Januarie) se weeklikse Covid-digitale mediakonferensie het Nomafrench Mbombo, die betrokke minister, gesê die fokus is spesifiek op universiteite, kolleges en fabrieke.

Die departement sal binnekort in die Weskus en wynlande wees om studente by kampusse aan te moedig om die Covid-entstof te ontvang. Teen Donderdag het meer as 50% van Weskussers vir hul inenting geregistreer.

Gevalle van Covid-19 in die Weskus het op ’n weekgrondslag gestabiliseer, hoewel ’n effense toename van 19% in gevalle aangeteken is.

Volgens dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, is genoegsame navorsing gedoen wat patrone van die pandemie uitlig. Cloete sê ’n profiel van pasiënte wat weens die virus gesterf het, is ook nou geskep.

Sterftes word geklassifiseer onder Covid-siekte (pneumonia), Covid-assosiasie (mense wat onderliggende gesondheidskwessies gehad het), toevallige gevalle (mense wat Covid-19- positief was, maar nie weens Covid gesterf het nie) en onbepaald.

Volgens Cloete het die profiel van sterfgevalle tussen die derde en vierde golf verander en minder mense het weens Covid-siekte gesterf. In die derde vlaag (piek in Augustus 2021) was 78% weens Covid-siekte in vergelyking met 50% van sterftes tydens die mees onlangse piek.

Sterftes weens Covid-assosiasie, waar mense onderliggende gesondheidskwessies het, het veral in die vierde piek toegeneem, met kanker of tuberkulose die hoofoorsake.

Inentings en versterkings-dosisse is steeds beskikbaar. Diegene wat die J&J-inentings gehad het kan na twee maande hulle versterkings-inenting ontvang en diegene wat die Pfizer-inentings gehad het kan ses maande ná hulle tweede Pfizer-inenting ’n versterkings-inenting ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article