Die Sixty60 afleweringsdienste verbonde aan Checkers het nou sy vlerke wyer gesprei en lewer eersdaags inkopies ook af vanaf Shoprite.
Die nuus kom met ’n bietjie gemengde gevoelens. Sommige voel dit is ’n goeie toevoeging tot die diens terwyl ander wil weet hoe dit die verkeer gaan affekteer.
Volgens die Shoprite-groep se mediaspan kom die besluit na ’n suksesvolle loodsprojek in die Wes-Kaap en Gauteng. Die dienste sal bekendgestel word by 19 Shoprite-winkels in agt provinsies.
“’n Gefaseerde ontplooiing sal verseker dat elke nuwe ligging die uitnemendheid en doeltreffendheid lewer wat sinoniem geword het met Sixty60.”
Neil Schreuder, hoof van strategie en innovasie die Shoprite-groep, voeg by: “Na baie maande se werk agter die skerms, is ons opgewonde om Shoprite Sixty60 bekend te stel aan plekke waar dit ’n betekenisvolle impak kan hê vir verbruikers wat die gerief van tuisaflewering nodig het, en waar die logistiek in plek is om ’n naatlose ervaring te ondersteun.”
Die mediaspan het geen terugvoering verskaf rondom enige plaaslike Shoprite-takke waar die diens vandeesmaand uitgerol word.
Drakenstein-munisipaliteit is ook genader rondom hoe die motorfietse en hul permitte gereguleer word en of verkeersbeamptes gereeld die drywers se papiere nagaan.
Eda Barnard, Drakenstein se uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, het in haar terugvoering gesê: “Motorfietse word soos enige ander voertuig in terme van die Nasionale Padverkeerswet gereguleer. Drakenstein-munisipaliteit se verkeersdienste gee daagliks aandag aan hierdie voertuie. Waar bestuurders teenstrydig met wetgewing optree, word hulle vervolg en die motorfietse ook geskut waar geregverdig”.


