Gesprekke word tans met ingenieurs gevoer om verbeterings by die Carinusbrug-aansluiting in Velddrif aan te bring.
Weslander het die afgelope paar jaar talle klagtes oor dié aansluiting ontvang omdat die brug, wat meer as 70 jaar oud is, glo nie geskik is vir die swaar vragmotorverkeer wat dit tans dra nie.
Een van Laaiplek se inwoners, André Dart, het onlangs in ’n skrywe aan die koerant gesê hy moes met sy voertuig op die brug stilhou om plek te maak vir ’n groot vragmotor wat van die R399 (Piketberg-kant) op die R27 (Weskuspad) ingedraai het.
“Hierdie soort voertuie kan nie op die brug indraai sonder om in die teenoorgestelde, aankomende verkeersbaan in te beweeg nie,” het Dart verduidelik.
Dit is net ’n kwessie van tyd voordat ’n ernstige botsing daar gebeur en die brug beskadig word, wat die toegang vir duisende motoriste na die R27 sal afsny.
Baie mense wat in Velddrif woon pendel daagliks na nabygeleë dorpe soos Vredenburg wat sowat 26 km vanaf Velddrif geleë is, of Langebaan wat sowat 41 km van Velddrif geleë is. Sou die Carinusbrug só beskadig word dat dit tydelik gesluit word, sal dit beteken dat pendelaars ’n ompad van meer as 170 km via Piketberg, Moorreesburg en Hopefield moet ry om weer op die R27 te kom.
Advokaat Hanlie Linde, die munisipale bestuurder van die Bergrivier-munisipaliteit (BM), het by navraag aan Weslander verduidelik die brug is deel van ’n provinsiale pad en val binne die regsgebied van die Wes-Kaapse regering.
Daarom is die aksie wat die BM wel by die kruising kan neem om dit te verbeter, baie beperk.
Dit kom basies daarop neer dat die BM net kleinskaalse herstelwerk aan die brug en die aansluiting mag doen. En vir hierdie herstelwerk moet die munisipaliteit vir ’n subsidie by die provinsie aansoek doen. Linde het egter bygevoeg konsultasies met betrekking tot ’n remediërende aksieplan vir die brug en die aansluiting word met raadgewende ingenieurs gehou. Daarna sal die munisipaliteit aansoek doen vir ’n groter subsidie en die raad kan dan eers die plan goedkeur aangesien dit finansiële implikasies vir die BM ook sal inhou.
Met betrekking tot sommige inwoners se bekommernis oor die ouderdom van die brug en hul vrae oor strukturele veiligheid, het Linde bevestig die toestand van die brug is wel onlangs deur kenners ondersoek. Hulle het volgens Linde bevind dat die brug glo nog met gemoedsrus deur inwoners gebruik kan word. Die ondersoek het blykbaar bevind niks hoef onmiddellik gedoen te word met betrekking tot die strukturele veiligheid van die Carinus-brug nie.
Volgens Linde wag die BM ook nog op verdere kommunikasie van die provinsie se kant af ten opsigte van die departement se toekomsplanne vir die brug.
Weslander het ook self ’n navraag aan die provinsiale regering oor die brug gestuur. Stewart Bain, die streekspadingenieur vir die provinsie, het ontvangs van die navraag erken en gesê die skrywe is na die relevante afdeling van die departement van vervoer en openbare werke verwys vir kommentaar. Die provinsie se terugvoer is teen druktyd nog nie ontvang nie.





