Johan du Plessis (63), senior bestuurder by die Saldanhabaai-munisipaliteit se departement van elektrotegniese dienste, het met ’n lang motortoet vir die laaste keer by dié departement se perseel uitgery.

Hy het ná ’n loopbaan van veertig jaar, waarvan 27 jaar by SBM, besluit dit is tyd om af te tree, en het einde Junie gegroet.

Saam het hy en sy vrou, Erna du Plessis, met wie hy vanjaar veertig jaar getroud is, hul merk in die Weskus gemaak – hy as elektriese ingenieur en sy as musiekonderwyser en organiseerder van vele kultuurgeleenthede.

Johan is ’n Kaapse boorling en het sy laerskooldae in Bellville deurgebring. Hy het hoërskool in Florida in Johannesburg voltooi, waarna hy besluit het om aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

Hy het elektriese ingenieurswese gekies, wat nie noodwendig sy eerste keuse was nie, maar hy wou nie sy pa in siviele ingenieurswese of sy suster in die finansiële bedryf volg nie. “Ek wou iets anders as hulle doen.”

Die besluit om in die Kaap te kom studeer, het hom en Erna bymekaargebring.

Sy was ’n musiekstudent aan dieselfde universiteit toe hulle ontmoet het. Die paartjie is in 1984 getroud.

Johan het sy loopbaan by Eskom in die Kaap in dieselfde jaar begin. Sy loopbaan as distriksingenieur het die paartjie eers na Empangeni in KwaZulu-Natal en later na George geneem.

Hy het later die pos as senior beplanningsingenieur in Johannesburg gekry en die eerste dekade van sy loopbaan voltooi.

Johan het in 1992 besluit hy wil eerder platteland toe trek omdat hy nie sy kinders in die stad wou grootmaak nie.

Hul Weskus-avontuur het begin met hom wat die pos as elektriese stadsingenieur in Vredenburg gekry het.

Daarna het vele veranderings by die munisipaliteit gevolg. Dit het eers die Weskusskiereiland-oorgangsraad geword en die munisipale dorp St Helenabaai bygekry. Later is al die dorpe geamalgameer onder die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en kom Langebaan en Hopefield by.

Johan was tot 2002 die hoof van die elektriese afdeling en is toe na direkteur vir tegniese dienste bevorder, wat alle siviele, elektriese en meganiese afdelings ingesluit het, sowel as munisipale vakansieoorde.

Hy het die SBM in 2008 vir eers verlaat om as raadgewende ingenieur in die private sektor te werk – hoofsaaklik in Vredenburg – maar die gesin het ook ’n draai in Oos-Londen gemaak.

Die pos as senior bestuurder van elektrotegniese dienste het in 2013 vakant geword en Johan het besluit dit is tyd om terug te keer. Hy het dié pos tot einde Junie vanjaar beklee – elf jaar.

“Een van die goed wat ek terdeë besef het, is dat tegniese beplanning altyd langtermyn moet wees. Ons probeer baie keer té korttermyn dink.”

Hy gebruik die Vredenburg-substasie by Louwville as voorbeeld. Die munisipale raad het in 1984 al besluit om die substasie te bou om voorsiening vir die groei in inwonertal van Vredenburg te voorsien. Hy onthou die eerste transformator is in 1986 ingesit, die tweede een in 1992 en die derde een in 2007. Die vierde een is in die finale fase in 2018 aangebring.

“Dit is ’n sprekende voorbeeld daarvan dat jy nie net dinge ‘vinnig’ kan doen nie, maar langtermyn moet beplan.”

Die mense wat al die jare deel van sy departement was, was vir hom ’n belangrike deel van dié langtermyn- beplanning.

“Dit was ’n groot ding om mense uit hul gemaksone te kon kry sodat hulle hul potensiaal kon bereik. As ek vat hoeveel skoonmakers op die ou einde as klerke geëindig het, en arbeiders wat as ambagsmanne gekwalifiseer het, is dit vir my ’n prestasie.”

Dit was vir hom bevredigend om mense opleiding te gee sodat hulle ’n beter lewe vir hulself kan maak.

“Oor die jare het baie mense gekom en gegaan, maar die SBM het voortgegaan.”

Johan glo as die regte mense aangestel word en elkeen hul bes gee, sal dit net goed gaan met die SBM.

Ook die elektriese departement, glo Johan, het baie goeie personeel wat “die ding aan die gang kan hou totdat daar weer iemand in my plek aangestel is”. Sy kollegas het “die passie om aan te hou en seker te maak dat die SBM ’n goeie plek bly”.

Vir eers wil Johan net so bietjie afskaal en ’n ruskans geniet, maar hy voorsien dat hy steeds in die toekoms beskikbaar sal wees vir projekte.

Nou kan hy meer tyd daaraan bestee om oupa vir hul drie kleinkinders én die enetjie wat nog op pad is, te speel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article