Die gemeenskap van St. Helenabaai het self Sondag ’n veroordeelde inbreker met ’n gevaarlike mes en ammunisie na die polisiekantoor gebring. Die 23-jarige man, wat in 2019 skuldig bevind is aan en gevonnis is vir huisbraak, het Dinsdag 18 Julie in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van ammunisie en ’n gevaarlike wapen. Gemeenskapslede het die beskuldigde Sondag om 14:40 na die polisiekantoor gebring omdat van die mense in die dorp gedreig het om hom aan te rand. Die polisie het op ’n mes en 9 mm-patrone afgekom toe hy deursoek is.
Saterdagoggend het ’n 50-jarige inwoner van Riebeek-Wes met haar honde gaan stap. Een van haar honde het vir ’n 44-jarige man begin blaf waarop hy die hond met ’n mes in sy regterskouer gesteek het. Die hond het mediese behandeling ontvang en die verdagte verskyn op 23 Augustus in die hof op aanklag van dieremishandeling.
’n Groep mans het Sondag omstreeks 18:00 ’n 24-jarige man van Malmesbury in ’n wit Quantum ingedwing. Hulle het hom met ’n vuurwapen aangehou, aangerand en daarvan beskuldig dat hy ’n inbreker is. Hulle het ook gedreig dat hulle hom gaan doodmaak. Hulle het die man uiteindelik laat gaan, waarna hy ’n klagte by die polisie ingedien het.
Twee rowers, gewapen met ’n vuurwapen en ’n panga, het Maandag omstreeks 10:40 ’n 22-jarige drawwer in Malmesbury genader. Die twee rowers se gesigte was bedek. Die rowers het die drawwer se selfoon geëis en met sy iPhone en oorfone op die vlug geslaan. Hy het ná die voorval ’n klagte by die polisie gaan indien.


