Nie sommer die gewone grootte televisieskerms nie, nee, St. Helenabaai se eie kruipende sluip-inbreker hou van die grotes – platskermtelevisiestelle wat duisende rande werd is. Hy breek ook sommer in met die inwoners of vakansiegangers nog ín die huis.
Volgens Jade Hanning, Fidelity ADT-streekbestuurder, was daar die afgelope paar dae sewe voorvalle waarin sulke platskermtelevisies uit huise gesteel is. Hy waarsku inwoners om waaksaam teen dié misdaadtendens te wees en enige verdagte persoon onmiddellik by die polisie of hul gewapendereaksiemaatskappy aan te meld.
“Dit lyk asof die verdagte onderdeur veiligheidstrale kruip om toegang te verkry voordat hy vensters verwyder sonder om dit te kraak.”
In die meeste van hierdie voorvalle was die niksvermoedende huiseienaars ten tyde van die inbraak tuis.
Die polisie is bewus van die situasie en dit word ondersoek, hoewel die ondersoek nog in ’n “uiters sensitiewe stadium is”, het kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisie, gesê.
“Maak asseblief seker dat jy ’n doeltreffende huissekuriteitstelsel geïnstalleer het en dat jy presies weet hoe om dit te gebruik. Toets dit gereeld en maak seker jy het ’n sterk batteryrugsteun in plek,” lui Hanning se wenk.
Hy raai mense ook aan om buite hul eiendom te staan en deur ’n misdadiger se oë daarna te kyk. “Vra jouself af hoe maklik sal dit vir my wees om by my eie huis in te breek. Dít sal jou vinnig ’n aanduiding gee van watter regstellings en opgraderings nodig is.”
Hy doen ’n beroep op enigiemand wat enige inbrake gehad het, of selfs ’n poging tot inbraak, om dit by die polisie op St. Helenabaai aan te meld.




