’n Inbreker wat sommer gou ’n slapie ingepas het in die huis waar hy Sondagnag in Arumstraat, Noordhoek, ingebreek het, is omstreeks 06:25 die volgende oggend deur die polisie verras.
Beamptes van die Laaiplek-polisie was op patrollie toe hulle op ’n klagte oor ’n gebreekte venster gereageer het. Met hul aankoms by die huis het hulle gebreekte vensters gesien en ook gesien die deur, wat toegemaak is, is nie gesluit nie.
Die polisiebeamptes het hierop die huis binnegegaan en die 20-jarige Melvino Engelbrecht slapend in die bed betrap.
Hulle het die huiseienaar gekontak, wat benadruk het dat sy alleen woon, en niemand toestemming gegee het om in haar huis te wees nie – wat nog van in haar bed.
Engelbrecht het Maandag in die Laaiplek-hof op aanklag van huisbraak verskyn.


