Die inbreker het in die kas weggekruip.
’n Gewapendereaksiebeampte het Vrydag 16 September in die donker oggendure só blitsig op ’n alarm gereageer dat die boosdoener nie kans gehad het om uit die winkel, waar hy ingebreek het, te vlug nie.
Volgens Riaan van Tonder, takbestuurder van die plaaslike gewapendereaksie-maatskappy Fidelity ADT Weskus, was Max Afrika, een van sy beamptes, in St. Helenabaai toe ’n alarm by Mercury Electrical in die dorp geaktiveer is.
Afrika het hom dadelik na die betrokke winkel gehaas, waar hy gesien het alles is nie pluis nie.
Hy het gesien die plafon van die badkamer is beskadig en hy het vermoed die inbreker is nog in die winkel.
Van Tonder sê Afrika het toe die beheerkamer gevra om die polisie en die eienaar van die winkel in kennis te stel en op die perseel vir die polisie gewag.
’n Konstabel van die St. Helenabaai-polisie en die eienaar van die winkel, Elizmay Smith, en haar verloofde, Vincent Vorster, het aangekom en hulle het saam die gebou binnegegaan.
Hulle het gesien alles in die winkel is omgekeer en uitgegooi, en omdat Afrika so gou op die toneel was, het hulle vermoed die boosdoener sou nie kans gehad het om te ontsnap sonder om gesien te word nie.
Die badkamerdeur was van binne af gesluit en hulle het die deur oopgebreek en ingegaan.
Afrika het voor die kas in die badkamer gaan staan en besef dit is groot genoeg vir iemand om daarin weg te kruip.
Toe hy die kas se deur oopmaak, het hy die vermeende inbreker wat daarin weggekruip het, ontdek.
“Die polisieman het my beampte dadelik bygestaan om die verdagte in hegtenis te neem,” het Van Tonder verduidelik.
Volgens Van Tonder is die man dadelik na die St. Helenabaai-polisiekantoor geneem, waar ’n strafregtelike klag teen hom aangemeld is.
Smith het aan Weslander gesê die inbreker het eers deur die plafon toegang tot die perseel probeer kry, maar nie daarin geslaag nie. Toe het hy skroewe uit die dak probeer haal, maar dit het ook nie gewerk nie. Uiteindelik het hy die dakgemonteerde windturbine-ventilator afgehaal en deur die ventilasieskag in die gebou afgesak.
“Nooit het ons gedink iemand sal deur die whirly in die winkel kan inkom nie. Hy was slim om só in te kom, maar nie slim genoeg om vooraf ’n ontsnappingsplan te beraam nie,” het Smith tong in die kies gesê.
“Hy was in die gebou vasgekeer en kon nie uitkom nie.”
Smith het verduidelik die inbreker het ook die drade van die alarm afgeruk om die sirene stil te maak, maar klaarblyklik nie geweet die alarm is steeds geaktiveer en word deur die veiligheidsmaatskappy se stelsel waargeneem nie.
Sy sê die man het hom in die badkamer toegesluit toe hy besef die owerhede is op sy spoor.
“Deur flinke optrede en inisiatief is nog ’n misdadiger uit ons midde verwyder. Welgedaan aan die polisie en Max,” het Van Tonder dankbaar gesê.
Smith het Fidelity ADT Weskus en die polisie vir hul “puik werk” bedank. “Ons is so dankbaar,” het sy bygevoeg.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die verdagte (27) wat Vrydagoggend om 01:15 op die toneel in hegtenis geneem is, Maandag 19 September in die Vredenburg-landdroshof verskyn. Die man is ook al voorheen aan die diefstal van 25 F petrol en roeispane wat van ’n boot af gesteel is, skuldig bevind.




