Imraan Manack stuur een van sy draaiballe af. Dié veelsydige speler glo die Krewe het ’n goeie kans om die Nasionale T20-Klubtitel te wen.


Hy is ’n Gautenger in murg en been.

Imraan Manack (31) vertel dat hy sy klubkrieket by Vredenburg/Saldanha, of die Krewe soos die span bekend staan, terdeë geniet.

Imraan, wat in Gauteng gebore is, het krieket reeds op negejarige ouderdom begin speel, vertel hy. Krieket loop in sy gene en sy pa, Abdulhuk Manack, was ’n snelbouler vir die destydse Transvaal. Manack, wat een van die klub se bestendige top-ordekolwers is, vat ook gereeld paaltjies met sy draaiballe. Manack is tans gekontrakteer by Boland waar hy sy krieket geniet.

Hy vertel sy krieketloopbaan het begin toe hy vir die Gauteng-o.19-span gekies is en daarna drie jaar in die Gauteng- krieketakademie opgeneem is voordat hy by Easterns aangesluit het.

“My eerste provinsiale kontrak was met die Titans van Pretoria waar ek vir vier jaar was voordat Covid toegeslaan het,” vertel hy.

“Ek het daarna vir een seisoen op Nuweland vir die Cape Cobras gespeel voordat ek by die Rocks in Paarl aangesluit het en waar ek steeds is.”

Volgens dié veelsydige speler staan sy 4/14 in T20 en 4/48 in eendagkrieket vir hom uit in provinsiale wedstryde.

Manack vertel ook dat sy veelsydigheid baie harde werk kos en dat hy reeds ’n vyftigtal vir Boland aangeteken het. Met die gesin se eersteling hier is dit nog moeiliker, vertel hy.

Manack sê hy is reeds twee jaar getroud met die liefde van sy lewe en woon tans in Somerset-Wes van waar sy vrou is. Hy wou nie juis baie oor haar praat nie behalwe om te sê dat sy hom baie ondersteun en die belangrikste is dat sy krieket verstaan, vertel hy.

“Ek is baie bevoorreg om deel van die Krewe te wees en die span het die seisoen nog nie ’n enkele wedstryd verloor nie,” vertel hy trots. Die bestuur en spelers is eenvoudig wonderlik, vertel hy met lof.

Hy dink die span is in ’n baie beter posisie om die Gemeenskap T20-titel in sy geboorteprovinsie te wen. Die span vertrek vandag na Gauteng waar hy die beste klubs in Suid-Afrika gaan pak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article