Gideon Melck met ‘n koekemakranka (Gethyllis-spesie).

Kom luister vanjaar by die Hopefield-fynbosskou na Gideon Melck en die Koekemakranka – Fynbosstories met geur en gees.

Dié jaarlikse skou vind van 28 tot 31 Augustus op die Hopefield-sportterrein plaas. As jy al ooit Melck se naam en die woord “koekemakranka” saam gehoor het, sal jy weet jy is in vir ‘n storie wat jy nie maklik gaan vergeet nie. Melck, ‘n fynboskenner van Hopefield, het ‘n besondere manier om die stories van die veld, die mense en die ou dae lewend te maak.

Een van sy “gunstelingkarakters” in die wêreld van fynbos is juis die koekemakranka, ‘n skaars en geurige plant (Gethyllis-spesie) waarvan die vrug so ryk is aan nostalgie as aan reuk.

Volgens Helena van der Westhuizen, voorsitter van die feeskomitee, gee Gideon met sy kenmerkende stem, sin vir humor en liefde vir die taal van die veld die koekemakranka lewe soos net hy kan.

“Hy vertel hoe die ou mense dit gebruik het, hoe dit ruik, waar dit groei en hoe dit ‘n simbool van verlore tye, verlange en Afrikaner-identiteit geword het. Melck se teenwoordigheid by die Hopefield-fynbosskou is ‘n skat op sigself. Mense leer nie net uit sy stories oor die koekemakranka nie – dit is poëties, menslik en deurdrenk met die gees van die Weskus en sy fynbosveld.

“Gideon se ouers, Philbert en Eleanor Melck, het hom die koekemakranka leer waardeer. Hy en sy vrou, Phoebe, is ‘n plaaslike egpaar wat nou by die Hopefield-fynbosskou betrokke is. Hulle behartig die beplanning en opstel van die uitstal-ling in die hooffynbossaalsaal – ‘n sleutelarea waar verskeie fynbosspesies professioneel en esteties uitgestal word.”

Volgens Van der Westhuizen koördineer die Melcks die versameling, klassifikasie en kurasie van plante en blomme van die omliggende biome, insluitend die Sandveld, Renosterveld en natlandgebiede. Deur die fynbossaal te bestuur, speel hulle ‘n sentrale rol in hoe die verskillende fynbosspesies ingesamel, geklassifiseer en professioneel uitgestal word.

• Besoek die fees se Facebook-blad by facebook.com/hopefield.fynbos vir nog inligting.

Die vrug van die koekemakranka (Gethyllis-spesie) is ‘n lekkerny vir Weskussers en dra pragtige wit blomme. Foto: Kevin Murray

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article