’n Onrusbarende oplewing van huisrooftogte in die Weskus terwyl die inwoners nog slaap, is die afgelope paar weke bespeur, met die jongste voorvalle verlede week in Dwarskersbos en Langebaan.

In ’n skokkende voorval vir die rustige kusdorp Dwarskersbos het huisrowers ’n bekende 54-jarige inwoner verlede Woensdag omstreeks 01:00 in die Slakkepas-kompleks in haar huis oorrompel en vasgebind.

Hulle het ’n stuk lap in haar mond gedruk en ’n kussingsloop oor haar kop getrek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het die rowers met ’n selfoonbatterylaaier, juwele, ’n iPhone en ’n iPad en die slagoffer se spaar-voertuigsleutels weggekom.

Die drie rowers wat die vrou oorval het, het kouse oor hul hande gedra en was nie gewapen nie. Die slagoffer het aangedui dat die rowers buitelanders was.

Die bure het teen 05:00 onraad gemerk toe hulle sien hoe die rowers sakke vol hout van haar bakkie aflaai om plek te maak vir onder meer haar televisie. Hulle het alarm gemaak, waarop die rowers te voet gevlug het.

In nog ’n huisrooftog – dié keer in Langebaan op Vrydag 3 November – het vyf rowers die 48-jarige klaer en haar man in hul huis in Zeelandstraat oorval. Die rowers het tussen 02:30 en 05:00 die oggend by die huis ingekom deur ’n ruit stilletjies te verwyder. Die rowers, wie se gesigte bedek was, het die klaer, haar man en hul twee kinders vasgebind en met ’n vuurwapen en twee messe gedreig. Die rowers het deur die huis na die klaer se voertuigsleutels gesoek. Nadat hulle dit gekry het, het hulle met haar GWM-sportnutsmotor, selfone, tablette, ’n TV-stel en juwele gevlug het. Die voertuig is later die oggend verlate op die R27 na Velddrif gevind.

Die twee huisrooftogte volg op nog twee soortgelyke voorvalle onlangs in Langebaan. In Oktober is ’n paartjie wild uit hul drome wakkergeruk met gewapende rowers wat op hul bed gespring het.

Volgens Helfrich het twee onbekende huisrowers die 67-jarige man en sy 65-jarige verloofde omstreeks 02:30 wakker geskud. Die man is aangerand en die paartjie is met die dood gedreig en vasgebind. Die rowers het klapmusse en handskoene gedra, en was met skroewedraaiers en messe gewapen. Hulle is vort met die klaer se Chevrolet Spark, twee selfone, ’n skootrekenaar, ’n silwer Rolex-horlosie en R300.

Die voertuig is ook later die oggend verlate op die R27 op pad na Kaapstad gekry.

In September het die rowers ook ’n paartjie van iets in die sestig jaar in die slaapkamer oorval en hulle ook met messe gedreig. Die rowers is weg met ’n .38 Special-rewolwer, juweliersware, twee skootrekenaars en twee iPhone-selfone.

In al drie gevalle is ruite geluidloos uitgehaal om toegang tot die huise te verkry.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article