Noluvu Ludidi
Terug vir ‘n derde jaar – en die langtafelete “Come Dine with Matt” was weer eens ‘n groot sukses.
Die geleentheid is aangebied deur Matthew Dreyden, ‘n jong sjef van Velddrif, en 110 gaste het die langtafelete verlede Vrydag (14 November) by die Hoërskool Hopefield bygewoon .
Die doel van die ete is om geld in te samel vir die MF Dreyden-fonds, wat hy in 2022 in sy matriekjaar gestig het. Geld wat gegenereer word, word gebruik om veral kinders met spesifieke behoeftes by te staan. Dreyden vertel dat dit altyd vir hom lekker is om terug by sy ou skool te wees en die langtafel aan te bied.
“Ons het dit vir ‘n derde keer aangebied en dit was weer eens heerlik om my passie uit te leef en vir mense ‘n goeie dining experience te gee.”
Wat was op die spyskaart, wou ons weet? Die gaste het aan verskeie peuselhappies gesmul en die voorgereg het uit snoek en patat, gerookte snoek-croquette, blomkoolpuree en patatskyfies bestaan. Die hoofgereg was beesrib, balsamie-geglasuurde wortels, geroosterde mielies, gesmoorde kool en duchess-aartappels.
Om die aand op ‘n soet noot af te sluit, is suurlemoentert, tuille en suurlemoen-curd voorgesit.
Met sy reise in Frankryk het Dreyden die geleentheid gehad om saam met die Michelin-ster-sjef Jan Hendrik van der Westhuizen te werk. Hy het na huiskos verlang.
“Toe ek in die mooie Frankryk was, het ek begin dink wat ek kan doen vir vanjaar se langtafel. Huiskos het by my opgekom – kos waarvan ek hou en mee grootgeword het. Ek het my gunstelingdisse bedien en dit net ‘n twist gee om dit meer elegant op die bord te laat lyk en mense uit die veld te slaan. Dit was beslis me on a plate.”
Dreyden het groot planne en is opgewonde oor wat die toekoms inhou.










