Maak gereed vir stemdag op Woensdag 29 Mei.Foto:


Weskussers wat van plan is om in die komende nasionale en provinsiale verkiesing te stem, moet alle nodige reëlings vir stemdag tref.

Enigeen wat nie op Woensdag 29 Mei by sy plaaslike stemlokaal kan uitkom nie kan vooraf hul kruisie as ’n spesiale stem trek.

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesmaand die datum van stemdag geproklameer. Dit is ’n vakansiedag.

Registrasie afgehandel

Die laaste kans vir voornemende kiesers om te registreer was Vrydag (23 Februarie). Die OVK het bevestig sy twee naweek-veldtogte om kiesers te registreer, was ’n sukses. Die nasionale kiesersrol staan nou op 27,6 miljoen, het die OVK in ’n verklaring gesê.

Sy Mamabolo, uitvoerende hoof van die OVK, moet teen 12 April afskrifte van alle stemlokale se adresse vir inspeksie verskaf. Hierna, teen 4 Maart, kan beswaar gemaak word oor die in- of uitsluiting van mense op die voorlopige kieserslys. Navraag kan ook gerig word oor die korrektheid van mense se registrasiebesonderhede.

Spesiale stemme

Suid-Afrikaners wat hulle op stemdag in die buiteland bevind, moet Mamabolo teen 22 April in kennis stel van hul voorneme om hul kruisies oorsee te trek. Dié kiesers sal op 17 en 18 Mei hul kruisies moet trek. Die OVK het Maandag op sy mediakonferensie gesê kandidate was dit eens dat twee dae beskikbaar gestel word vir spesiale stemme by stemlokale sowel as vir huisbesoeke. Dié spesiale stemme is op 27 en 28 Mei.

Bejaardes, swanger vroue of enigiemand anders wat voel hulle kan nie op stemdag na hul naaste stemlokaal gaan nie, kan vir ’n spesiale stem registreer.

Datums vir kandidate

Partye en onafhanklike kandidate wat in die verkiesing – hetsy provinsiaal of nasionaal – wil staan, het hul eie spertye. Die lys kandidate moet teen 8 Maart ingedien word.

Mamabolo moet teen 18 Maart alle partye en kandidate laat weet indien hulle nie aan die nodige vereistes voldoen om in die verkiesing te staan nie. Die finale lys partye, hul kandidate sowel as onafhanklike kandidate wat in die verkiesing sal staan, sal teen 10 April bekend gemaak moet word.

Jou stem tel – drie keer

Kiesers sal vanjaar ook mooi moet kophou, want hulle sal drie stembriewe kry. Die eerste stembrief sal wees om ’n party of onafhanklike kandidaat vir die nasionale vergadering te verkies. Hierdie stembrief is uniek aan elke provinsie aangesien dit om ’n streek gebaseer is en dié verteenwoordiger die belange van jou provinsie sal behartig. Die tweede stembrief sal wees vir partye vir die nasionale vergadering. Hierdie sal bepaal hoeveel setels ’n party in die nasionale vergadering het. Laastens is die derde stembrief vir die verkiesing van kandidate vir die provinsiale wetgewer, het Mamabolo verduidelik.

Kontak jou naaste OVK-kantoor met enige navrae:. Saldanhabaai – Skoolstraat 19B, Vredenburg, 022 713 2817 of 086 626 1966. Swartland – Bokomostraat 20, Malmesbury, (022) 482 4179(086) 638 3617. Matzikama – Van Riebeecklaan 28, Vredendal, 027 213 4216 of 086 624 4276. Cederberg – Voortrekkerstraat 59, Citrusdal, 022 921 3546 of 086 575 0237.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article