Bly kalm en verskaf die nodige inligting aan ’n gesondheidswerker in geval van nood.Foto:


Sommige ouers is salig onbewus van verskeie dodelike gevare wat in en om die huis voorkom.

Kinders moet nog leer dis gevaarlik om hul vinger in ’n kragprop te druk of dat die braaivleisvuur hulle sal brand as hulle te naby kom. Daarom moet volwassenes hul kleuters weghou van huishoudelike gevare, maar terselfdertyd hul kroos bemagtig met die nodige kennis sodat hulle bewus sal wees van die moontlike gevaar wanneer hulle byvoorbeeld by iemand se huis kom waar die swembad nie omhein is nie, of ’n volwassene nie ’n vuurwapen in ’n kluis toegesluit het nie.

Een van hierdie huishoudelike gevare is giftige middels en medikasie wat binne die bereik van kleuters en babas gehou word.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid se missie is deurlopend om bewustheid van huishoudelike gevare by ouers te skep en hulle te leer hoe om in ’n noodgeval te reageer om ’n kind se lewe te red.

Volgens inligting wat Leensie Lötter, die departement se woordvoerder vir die Weskus, verskaf het, is ’n goeie bron van praktiese inligting oor kinderveiligheid in die Pad na Gesondheid-boekie saamgevat, wat nuwe ma’s met die geboorte van hul babas ontvang. Hierdie boekie is propvol raad oor gesonde voeding, kindersiektes en veiligheidswenke wat betrekking het op die eerste duisend dae van ’n kind se lewe.

Een van die onderwerpe waaroor die gesondheidsdepartement ouers waarsku, is vergiftiging deur onder meer huishoudelike skoonmaakmiddels en medikasie.

Die gesondheidsdepartement deel graag die volgende raad:

Voorkoming is beter as genesing. Bêre alle huishoudelike skoonmaakmiddels, medikasie en paraffien op ’n veilig plek buite die bereik van kinders. . Die kas waarin hierdie middels gebêre word, moet verkieslik kan sluit.. Paraffien moet nie in koeldrankbottels gebêre word nie, aangesien kinders dit met koeldrank kan verwar.. In die geval van vergiftiging, skakel die gifinligtingslyn by 086 155 5777.

Simptome van vergiftiging

Wanneer jy byvoorbeeld ontdek jou kleuter het homself gehelp aan die bloeddrukpille wat gewoonlik op sy ouma se bedkassie gestaan het, moet jy vir die volgende simptome dophou:. Braking. Stuiptrekkings. Lusteloosheid, deurmekaarheid of verlies van bewussyn. Diarree . Diarree met bloed in die stoelgang. Asemnood. Vergrote pupille. Jou kind se asemhalingstempo is meer as 50 keer per minuut.

In geval van nood. Ernstige siek kinders moet onmiddellik deur ’n gesondheidswerker ondersoek word. . Probeer kalm bly.. Verskaf jou naam en kontaknommer aan die dokter of verpleegster.. Verskaf die kind se naam en ouderdom.. Verskaf die adres van die kind.. Beskryf wat met die kind gebeur het.. As die kind pyn het, dui aan waar die pyn is. As daar bloeding is, beskryf waar dit vandaan kom.. Dui aan wanneer die voorval plaasgevind het.. Dui aan wat die kind gesluk het.. As die kliniek gesluit is of jy nie vervoer het om jou kind dringend by ’n gesondheidsfasiliteit te kry nie, skakel asseblief dringend ’n ambulans: (tolvrye oproepe) 10177 van ’n landlyn af of 112 van ’n selfoon af.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article