Die 20ste Weskus-marathon het die afgelope naweek plaasgevind met atlete wat weer die gewilde roete deur die Weskus Nasionale Park en die Langebaan-Country Estate (LCE) aangepak het.
Atlete kon die marathon (42,2 km) of halfmarathon (21,1 km) of die 10 km- of 5 km-pretloop Saterdag voltooi.
Atlete het Saterdag in die Weskus Nasionale Park vir die 42,5 km van die marathon met groot glimlagte weggespring, maar met moeë bene by die eindstreep by die Langebaan- Country Estate (LCE) aangekom.
Lungile Gongqa (02:28:59) van die Nedbank Running Club-span het koning gekraai met sy mede-klubatlete wat die ander topdrie-plekke ingeneem het. Siya Sakwe en Marks Mpekula het onderskeidelik die tweede en derde plek ingeneem. Die topdrie-vroueatlete was Elme Middelmost (03:08:15), Madele du Plessis (03:09:26) en Carla Whitehead (03:10:49). Die eerste atleet van ’n plaaslike klub wat oor die wenstreep gehardloop het, was Dawid Andrews (03:16:11) van die St. Helenabaai-klub.
In die halfmarathon het Philani Sence (01:09:05), Mthandazo Qhina en Nkosinathi Madyo die toppodium-plekke gevat. Keaton Lott het goud in die 10 km-wedloop geneem.





